Talentvolle swemmer maak naam in dorp
Carine Gagiano is nie net 'n voormalige Springbok-onderwaterhokkiespeler nie, maar werk ook tans as interne dokter by Rob Ferreira Hospitaal.

Sy is oorspronklik van Bredasdorp in die Wes-Kaap waar sy sedert haar vroeë hoërskooldae aan ‘n klub verbonde was.
“Voordat ek met die sport begin het, het ek geswem. Die belangstelling in onderwaterhokkie was en is nog steeds groot op skoolvlak. Ek het later swem prysgegee en voltyds onderwaterhokkie begin speel.”
Die 29-jarige het op o/16- en o/17-vlak vir Boland se provinsiale span gespeel. In gr. 11 is sy saam met die junior Suid-Afrikaanse span na die Wêreldkampioenskappe in Durban. As matriekleerder het sy ook saam met die nasionale span na Tasmanië (suid van Australië) getoer waar hulle aan die Suidelike-ronde kampioenskappe deelgeneem het (Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Australië neem hier deel).
In 2004 het sy vir ‘n verpleeg-kundekursus by die Universiteit van Stellenbosch ingeskryf. Hier het sy vir Maties asook vir Kaapstad se onderwaterhokkieklub gespeel. Gagiano het ook van 2009 tot 2013 vir die Westelike Provinsie gespeel. Sy was ook in 2011 die spanbestuurder van die Suid-Afrikaanse vroue-hokkiespan en het saam met die span in 2012 na Holland getoer.
“Ek het in 2008 vir medies ingeskryf en in my laaste jaar (2013) het ek nie gespeel nie omdat ek nie tyd gehad het nie.”
Sy het onlangs by die Nelspruit Onderwaterhokkieklub by Van Riebeeckpark aangesluit.
Die klub beoog om aan die einde van die jaar vir die interklubkompetisie en volgende jaar vir die interprovinsiale kampioenskappe in te skryf. Daarom nooi hulle alle belangstellendes om die sport te kom uittoets.
