Groot opkoms vir Makro se jaarlikse gholfdag
Makro Mbombela kon 'n vol veld lok na hul jaarlikse gholfdag vir welwillendheidsorganisasies verlede week Vrydag by die Nelspruit Gholfklub.

Makro Mbombela kon 116 spelers lok na hul jaarlikse gholfdag vir welwillendheidsorganisasies. Die dag is verlede week Vrydag by die Nelspruit Gholfklub aangebied. Die rook van die veldbrande in die nasionale Kruger-wildtuin die dag het hier ook dik in die lug gehang, maar dit kon die 29 spanne se geesdrif om vir ‘n goeie doel uit die kantoor te ontsnap nie demp nie.
Volgens Bella Valongo, koördineerder van Makro se werknemers se sosiale verantwoordelikheid kon hulle daarin slaag om op die dag ‘n totaal van R90 000 in te samel. Volgens die groeps sal dié fondse gelykop in drie dele verdeel word tussen Child Welfare, die Greater Rape Intervention Project (GRIP) en die Makro Employee Educational Trust. Hiedie trust help skole in die area met geld en benodighede.
Tog was dinge ook kompeterend tussen die onderskeie vierbal-spanne. CMR Meridian se Clayton Schmidt, Leon du Toit, Braam Haasbroek en Peter Obermeyer was die wen-span. Nu Era Chickens se span kon in die tweede minste houe die 18-putjies kafdraf, terwyl Clover en Tevo se spanne onderskeidelik derde en vierde geëindig het.
In die kompetisie onder die individuele spelers kon Buks Esterhuizen en Wayne Potgieter die bal die naaste aan die put kry op onderskeidelik die derde- en 17de putjies.
Ross Crosswell en Ryan Matherson het weer op onderskeidelik die agste- en 18de putjies die langste dryfhoue gespeel.
Sien nog foto’s hier.
