Krieketakademie beoog om jonges te leer
Tot dusver het Rudolph nog net positiewe terugvoer oor sy krieketakademie gekry en is dit vir hom lekker om te sien hoe spelers tydens elke afrigtingssessie verbeter.
Krieket is in sy bloed en as krieketafrigter wil hy met sy eie krieket-akademie ’n liefde vir die spel by jong seuns in die Laeveld kweek, ongeag hul vaardighede.
Johan Rudolph, pa van die Proteas- en Titans-kolwer, Jacques Rudolph, het vyf maande gelede die Johan Rudolph Krieketakademie gestig wat beoog om kinders se vaardighede op te skerp en individuele aandag aan spelers te gee.
“Een van die belangrikste aspekte vir my is om die kinders te leer om die spel te geniet maar ook om gedissiplineerd te wees en alles op die veld te gee. Die verskil tussen ’n goeie en ’n topspeler is hoe hul druksituasies kan hanteer. Spelers moet daardie selfvertroue in hul spel hê.”
Rudolph het al meer as 20 jaar se ervaring in krieketafrigting en het tyd by die Titans gespandeer en toe later Namibië en Uganda se nasionale spanne afgerig. Hy is ook ’n gekwalifiseerde Krieket Suid-Afrika (KSA) vlak 3-afrigter.
Rudolph se krieketakademie is by Hoërskool Nelspruit, waar hy ook as krieketafrigter en spesialis aangestel is. Daar rig hy die o/14-, o/15- en o/19-spanne af.
“Ek rig spelers van verskillende laer- en hoërskole af. Maandae to Woensdae rig ek by NHS af en ek is Donderdae en Vrydae by Uplands College in Witrivier,” sê hy.
Die akademie bied beide ’n junior- en senior program aan, met Shaun Cronje wat die o/6 tot o/9 ouderdomgsgroepe behartig.
“Die belangrikste is dat die kinders die spel – veral op ’n jong ouderdom – geniet. Ons wil dit vir hul lekker maak en so leer hulle terwyl hulle speel. Almal kry’n kans,” sê Cronje.
Rudolph verduidelik ook verder dat die akademie veral op basiese vaardighede en tegnieke fokus en spelers vir wedstrydsituasies voorberei.
“Een van die hooffokuspunte is om die kinders te leer om die langer weergawe van die spel te speel. Dit is waar die groot toets inkom, war konsentrasie belangrik is en strategies gespeel moet word.”
Volgens Rudolph is daar ook te min wedstrydervaring vir jong spelers en is dit belangrik om jong krieketspelers aan verskillende wedstrydsituasies bloot te stel.
“Ek sal graag ’n junior klub op die been wil kry sodat die spelers buiteseisoen ook wedstryde kan speel wat voordelig vir hul ontwikkeling sal wees.”
Dit is vir Rudolph ook belangrik dat kinders nie moet voel dat hulle nie die topvlak gaan bereik as hul nie vir die Pumaspan gekies word nie.
“Daar is baie roetes wat ’n mens kan volg, elke speler ontwikkel ook op sy eie tyd en het sy eie identiteit wat hom ’n goeie speler maak. Harde werk en passie vir die spel sal wel vrugte afwerp.”
Tot dusver het Rudolph nog net positiewe terugvoer oor sy krieketakademie gekry en is dit vir hom lekker om te sien hoe spelers tydens elke afrigtingssessie verbeter.
“Dit is werklik lekker om ’n SMS van ’n leerling te kry waarin hy jou vertel dat hy ’n baie lopies aangeteken het of paaltjies het in ’n wedstryd geneem het,” sê hy.
Navrae: Johan Rudolph by 079-620-0604 en Johanrudolphcoach@hotmail.com
