Pumas is slaggereed en gefokus vir titaniese stryd
As gevolg van 'n swak vertoning teen die Westelike Provinsie is die losskakel JC Roos, sommer sy plek in die span wat vanaand teen die Blou Bulle uitdraf, heeltemal kwyt.

Die Steval Pumas sukkel al hóé lank om ‘n gedugte kandidaat vir die nr. 10-trui in die Curriebekerveldtog te kry. Die afrigter van die Laevelders, Jimmy Stonehouse, het Justin van Staden as sy staatmaker vir die stryd teen die Vodacom Blou Bulle gekies.
Coenie van Wyk, wat sedert 2012 as heelagter uitdraf, is op die plaasvervangersbank en sal Van Staden op daardie posisie uithelp. Van Wyk het as gr. 6-leerder in dié posisie begin en dit sal interessant wees om te sien hoe hy vaar sou hy ingespan word.
Die Blou Bul-afrigter, Frans Ludeke kan net nie ‘n samehangende besluit oor haker en skrumskakel maak nie. Callie Visagie en Rudy Paige is weer die manne wat ingespan word nadat Bongi Mbonambi en Piet van Zyl in die Pretorianers se vorige kragmeting teen die Vrystaat Cheetahs begin het. Die week voor dit, teen die Cell C Sharks, was dit Visagie en Paige. Albei die spanne moet dié kragmeting wen om binne bereik van die halfeindronde van die reeks te bly. Daarby het die Pumas die einste Bulle vanjaar met ‘n telling van 22-21 in die Vodacombeker in Mbombela getroef.
Die twee spelers wat vir groot opwindende rugby gaan sorg, is die heelagters, JW Bell (Pumas) en Jesse Kriel (Bulle). Kriel het sy debuut vir die Bulle se Super Rugby-groep gemaak. Hy het ook vir die Junior Bokkies in 2013 en 2014 uitgedraf. Met 13 wedstryde agter die blad, het hy vier drieë aangeteken.
Bell speel sedert 2013 vir die Pumas en draf vanaand in sy 40ste wedstryd uit. In 39 wedstryde het hy 17 drieë (85 punte) aangeteken.
