Steval Pumas nog hoopvol na powerige vertoning
"Dalk steek daar 'n gelukkie êrens vir ons kop uit. Hierdie komende naweek maak 'n span dalk 'n hele paar ongedwonge foute en word ons kans om in die kwarteindronde mee te ding, dalk nog waar."

So sê ‘n hoopvolle afrigter van die Steval Pumas, Jimmy Stonehouse na afloop van die naweek se pak slae van 37-6 deur die Blou Bulle.
‘n Donkerwolk het Vrydag oor Mbombela gehang en ‘n powerige vertoning van die tuisspan in die agtste ronde van die reeks, het nie eens ‘n sterretjie sien flikker nie.
Twee van die Steval Pumas se sterspelers, Renaldo Bothma en die kaptein, Corné Steenkamp het in die 22ste minuut die veld verlaat. Bothma het gedurende ‘n duikslag van die teenstanders, sy wangbeen op drie plekke gebreek en sal vir agt weke uit die prentjie wees. Steenkamp was genadiglik net 10 minute van die veld af en kon weer sy plek op flank inneem.
Die Steval Pumas se losskakel, Justin van Staden se skoppersentasie was voor die Bulle-kragmeting 81,25 persent – sowat 17 persent beter as JC Roos s’n op net 64,71. Jacques-Louis Potgieter van die Vodacom Blou Bulle se trefpersentasie is net-net beter as Van Staden s’n op 81,58 persent. Potgieter was volgens Stonehouse fenominaal. Hy het met drie straf- en doelskoppe pale toe geslaag.
Teen rustyd was die telling 6-10 in die Bulle se guns.
Die tuisspan het in die tweede helfte ongedwonge foute in die vaste fasette begaan en veral hul skrums en balhantering was nie na wense nie.
Van Staden het met twee strafskoppe na die pale toe geslaag en het sy span se enigste punte van die wedstryd aangeteken. Die Pienktruie lê tans sesde op die puntleer met 19 punte.
Hulle toer die naweek na Port Elizabeth waar hulle die Oostelike Provinsie, die Kings sal aandurf.
Dié span beklee die laaste plek op die punteleer met net een punt agter hulle naam.
