Swemmer hou moed ten spyte van gebrek
'n Plaaslike 21-jarige swemmer se unieke situasie keer haar nie om haar droom in die water uit te leef nie.

Anné Swart het vyf weke na haar geboorte breinvliesontsteking opgedoen en is verstandelik daardeur aangetas. Dit beteken dat sy in die water nie die afstand wat sy moet swem kan bepaal nie en deur middel van handbewegings deur haar afrigter, Norma Kumm bygestaan moet word. Swart het verlede jaar haar Protea-kleure verower nadat sy gekies is om haar land by die INAS (para-atlete met intellektuele gestremdhede) Wêreldswemkampioenskappe in Noumea, New Caledonia te verteenwoordig.
Sedert 2011 het sy aan 37 swemgala’s deelgeneem. “Anné het in 2008 ophou swem, maar toe sy eers sien hoe goed haar niggies in die swembad vaar, het sy besluit om weer met die sport te begin,” vertel haar ma, Petro.
Sy het aan die Suid-Afrikaanse nasionale watersport, wat in Durban, KwaZulu-Natal in 2011 plaasgevind het, deelgeneem. Hiér het sy die 50 meter-vryslag in 35,95 sekondes voltooi. Vandag swem sy die 50m-vryslag in 32,88 sekondes (6,93 sekondes vinniger). Sy het dié tyd by die Suid-Afrikaanse nasionale ouderdomsgroep-kampioenskappe in Durban vroeër vanjaar geswem.
Sy is vir die “spookspan” se finale groep wat volgende jaar saam met die Suid-Afrikaanse swemspan Ecuador toe toer, gekies. “Ons is baie trots op wat sy reeds bereik het. Ek weet ons druk haar soms, maar alles is die moeite werd,” sê Petro.
Sy het amptelik haar eerste swemles as 12-jarige by Esmarie Lemaitré by Fins Swemklub gekry. Kumm is tans Anné se afrigter en sy het onder haar leiding reeds ‘n hele paar puik tye geswem.
Christelle Kriel van Uni Swim verduidelik Anné is haar grootste kompetisie in die provinsie. In Suid-Afrika, laat Yvonne Smit van die Vrystaat, Anné behoorlik sweet.
“Moet nooit opgee as jy baie hard daarvoor gewerk het nie. Om die beste te wees, verg selfdissipline en volharding. Hou moed,” sê Anné ter motivering van mede- en opkomende swemmers.
Só het haar tye in die volgende style verbeter:
• 100m-vrystyl – begintyd 01:34:09; huidige tyd 01:19:36
• 200m-vrystyl – begintyd 03:11:73; huidige tyd 02:55:74
• 50m-borsslag – 55:42; 45:48
• 100m-borsslag – 02:09:19; 01:38:76
• 200m-borsslag – 03:51:45; 03:36:62
• 50m-rugslag – 52:41; 43:16
• 100m-rugslag – 01:48:29; 01:34:57
• 50m-vlinderslag – 49:99; 40:26
• 100m-vlinderslag – 01:34:11; 01:49:31
• 100m-individuele wisselslag – 01:39:73; 01:28:72
• 200m-individuele wisselslag – 03:56:27; 03:21:67.
