Local sportSport

Speurder het hope talent

Christie Botha is nie net een van die Laeveld se mees bekende speurders nie, maar ook 'n kranige krieket- en hokkiespeler.

Sy is onlangs as die kaptein van die Suid-Afrikaanse Polisiediens se span gekies.

“Die polisie is baie op sport en die verbetering daarvan ingestel. Vanjaar het hulle twee tot drie vroue-verteenwoordigers van elke provinsie gekies om ‘n krieketontwikkelingskliniek in Potchefstroom by te woon.”

Lede van KwaZulu-Natal, die Oos-, Wes- en Noord-Kaap het verlede Maandag by Senwespark bymekaar gekom om hul basiese krieketvaardighede op te skerp.

“Een van Noordwes Universiteit se Potchefstroomkampus-krieketafrigters, Francois van der Merwe en die Protea-vrouekrieketspan se openingskolwer, Lizelle Lee het ons gedurende die week uitgehelp.

Ek voel dat ons ons doelwit vir die eerste jaar bereik het deur net eers ‘n span op die been te bring. Nie al die provinsies het deelgeneem nie, maar ons wil in die vervolg meer potensiële spelers betrokke kry.”

Na die eerste dag, is Botha as die kaptein aangewys. Sy vertel dat sy in ‘n kort tydjie verbetering by die spelers kon sien. Haar spanmaat in binnenshuise krieket, Janetta Starbuck was ook by die program betrokke.

Die span beoog om volgende jaar in Februarie in ‘n toernooi teen die Suid-Afrikaanse Weermag-vrouespan te speel.

Dié 28-jarige het in 2005 met binnenshuise krieket begin. Hier het haar liefde vir krieket gegroei en is sy in 2009 vir die Suid-Afrikaanse vrouekrieketspan gekies.

“Ek het op hoërskoolvlak buitekrieket gespeel, maar hokkie is my groot liefde.

Hierdie jaar het ek hokkie tweede gestel omdat ek krieket as ‘n nuwe uitdaging gesien het, maar volgende jaar wil ek graag weer met die stok en bal begin oefen.”

Botha draf op middelvoor vir LVCC uit en is tans die voorste doelskieter in die provinsie – sy het 28 doele in 12 wedstryde aangeteken.

Dié klub wil graag ook ‘n vrouekrieketspan op die been bring wat aan klubkompetisies kan deelneem.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button