Local sportSport

Pumas se bekerdroom verby

Fluit-fluit die Pumas se Curriebekerreeks-verhaal is uit.

Dit is verkort met ‘n drie van die heelagter van die OP-Kings, Scott van Breda en die doelskop deur Gary van Aswegen wat die oorwinning van 25-26 Vrydagaand in Port Elizabeth beklink het.

Die einde kon heeltemal anders verloop het sou die Pienktruie met vyf punte gewen het en die GWK Griekwas die Blou Bulle op Loftus geklop het. Vir die Kings was dit hul eerste en enigste oorwinning van die seisoen. Voor dié kragmeting, het die Rooies net een punt op die punteleer gehad en hierdie wen het al die ondersteuners, en ook beslis die besoekers, se verwagtinge oortref.

Die skeidsregter, Marius Jonker het twee van die Pumas se sleutelspelers, Giant Mtyanda én Rosco Spekman in onderskeidelik die 11de en 26ste minute vir oortredings afgestuur. Gedurende dié 10 minute wat die slot af was, het die Kings twee drieë gedruk.

Die Kings het uitstekende rolmaalbewegings uitgevoer en drie daarvan het tot vyfpunters gelei. Die skrumskakel van die tuisspan, Tobie Botes het soos ‘n ponie oor die twee verdedigers, Corné Steenkamp en Reynier van Rooyen gespring om sy span se eerste drie aan te teken.

Die Pumas het eers in die 14de minuut met ‘n strafskop hul rekening vir die aand geopen. Dié span het tydens die eerste ses minute vuur en vlam gelyk, maar vinnig hul momentum verloor.

Na 22 minute het Botes, nadat die Kings die Pumas se lynstaan gesteel het, die bal wyd gestuur en Ronnie Cooke het gaan druk. Skaars vyf minute later, het Paul Schoeman die Kings se derde drie gedruk. Daar moet aan die Pumas krediet gegee word met hul uitstekende poging om na ‘n agterstand van 19-3 terug te veg.

Na nege fases het die Pumas – na ‘n kulbeweging van Frankie Herne – vir die eerste keer oor die doellyn gevlieg en kort voor rustyd het Van Staden ook agter die doellyn gaan kuier. Spekman het die tweede helfte met ‘n drie geopen om die Pumas vir die eerste keer te laat voorloop, maar dit was helaas nie genoeg nie.

‘n Perfekte steekskoppie deur Shane Gates met Van Breda wat afgerond het, het die Pumas se doppie finaal geklink.

Jimmy Stonehouse, afrigter van die Pienkes het na afloop van die wedstryd gesê dat sy span se foute dit kwansuis
makliker vir die Kings gemaak het om die wedstryd in hul sakkie te kon steek.

Twee van die tuisspan se spelers, Coenie van Wyk en JW Jonker het Vrydagaand vir die laaste keer ‘n Puma-trui oor hul koppe getrek. Albei hierdie spelers sluit eersdaags by die Cheetahs in Bloemfontein aan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button