Bergfietsster het ‘n blink toekoms
"Ek is elke naweek op my fiets en probeer soveel as moontlik aan wedrenne deelneem."
Die MTN Nasionale Bergfietskampioen-skappe is een van die strafste maar ook gewildste wedrenne in Suid-Afrika.
Hoërskool Nelspruit se fietsrykoningin, Mandie Swart het vanjaar die junior titel in die halfmarathon gewen, asook gesamentlik derde in die vrouekategorie gekom en het sodoende nog medaljes by haar indrukwekkende trofeekas gevoeg. Swart is een van die grootste talente in Suid-Afrika.
Haar liefdesverhouding met fietsry het begin toe sy in gr. 5 haar eerste fiets gekry het.”By Mankele was daar ‘n bergfietswedren en ek het besluit om in te skryf en toe die fietsrygogga my behoorlik gebyt het, het ek begin om skolewedrenne te ry,” vertel sy.
Een van die groot redes vir Swart se uitstekende uitslae die afgelope paar jaar waarin sy ook vir Suid-Afrika verteenwoordig het, is haar wilskrag en mededingendheid. Hierdie wilskrag is tot die uiterste getoets gedurende die SA Marathonkampioenskappe in Pietermaritzburg.
“Dit was ‘n baie groot uitdaging omdat die roete lank en tegnies was. Ek het nie gedink ek sou klaarmaak nie,” onthou sy.
Volgens haar is Mpumalanga een van die ideale plekke om bergfiets te beoefen, maar sy glo dat elke wedren sy eie unieke eise stel.
Die fietsryseisoen is op sy bedrywigste tussen Maart en September en Swart maak seker dat sy altyd gereed is om aan nog ‘n wedren deel te neem.”Ek is elke naweek op my fiets en probeer soveel as moontlik aan wedrenne deelneem. As ek nie deelneem nie, oefen ek op die plaas of by Curro se baan en soms by Kaapsehoop of Mankele. Daar is altyd ‘n plek om te ry,” vertel sy.
Wyle Burry Stander is een van haar helde en iemand waarna sy opsien vir die manier hoe hy mense gemotiveer en geïnspireer het.
“Ek wil ook soos Burry hard werk en my alles gee. Ariane Kleinhans is ook op die oomblik een van die wêreld se top-fietsryers waarna ek opsien,” sê sy.
Nes Stander wil sy ook in die Absa Cape Epic naam maak en in die toekoms in ‘n gemengde span die uitdagende sewe dag lange bergfietsmarathon voltooi.
“Ek mik om dit in 2017 te doen nadat ek vir die onder 23-kategorie gekwalifiseer het. Nog ‘n mikpunt is om aan die wêreldkampioenskappe deel te neem,” vertel sy.
“Ek wil ook net vir Valencia baie dankie sê wat my al die afgelope drie jaar borg. As dit nie vir hulle was nie, sou ek nooit die toerusting gehad het nie en sou ek waarskynlik my ouers finansieel uitgeroei het,” grap sy.
