Nellies het eerste swemgala in hul sakkie
Laerskool Nelspruit se swemspan het hulle eerste gala wat deur Uplands College aangebied is, met 25,5 punte gewen.

Uplands se A- en B-span, Laerskool Witrivier, Penryn en Nellies se A- en B-span het sake Dinsdag in die swembad uitgespook.
Nelspruit het die eerste plek op die punteleer met 129,5 punte beklee en Uplands A was in die tweede plek met 104 punte. Beide die victrix en victor ludorum-trofeë is aan swemmers van Nelspruit toegeken. Jetro Piso, seuns o/12 het ál sy items (vlinder-, kruip-, vry- en rugsslag) gewen. Skye Munro, ook o/12, het ook eerste in haar onderskeie items (rug-, bors-, vlinder- en kruipslag) geëindig.
Skye het by Nellies se interhuisswemgala die wenkbroue laat lig. Sy het nuwe rekords in die 50 meter-vry-, bors-, vlinderslag en in die 200 meter- individuele wisselslag losgewem. Hier het sy ook vir die beste prestasie van die dag gesorg en ook as die victrix ludorum aangewys. Jetro het óók die rekordboeke tydens Nellies se swemgala in die 50 meter- vry- en vlinderslag herskryf. Hy is as die senior victor ludorum benoem.
Kayla Schefferman (o/12) van Penryn, Beon Pienaar (o/11) Uplands, Jimmy Munro (o/12) Nelspruit, Carolien Pienaar (o/9) Uplands en Vaughn van Zyl (o/7) Nellies, het die maksimum van 12 punte losgewem.
Jimmy, Jetro, Carolien, Kayla en Skye was deel van die provinsiale span vir die 2013/14-termyn.
Volledige uitslae
• Nelspruit A – 129,5
• Uplands A – 104
• Nelspruit B – 67
• Penryn – 54
• Witrivier – 25
• Uplands B – 22,5.
