Local sportSport

Die Witrivier Pistoolklub vier hul kleurryke geskiedenis

Een van die oudste skietklubs in die land het onlangs hul 45ste bestaansjaar gedenk.

Die Witrivier Pistoolklub het hul 45ste verjaarsdag met ‘n ete by Umbali Lodge gevier en Faan Roodt, wat al vir 42 ‘n lid is, het ‘n oorsig oor die ontstaan en geskiedenis van die klub gegee.

Dit is op 18 September 1969 deur die destydse stasiebevelvoerder, Hannes Coetzee, en sy vrou, Lena, gestig. Dit was aanvanklik slegs ‘n damesskietklub, waar vroue kon leer om hulself te verdedig deur hul wapens beter te ken en gebruik, maar dis later ook aan mans oopgestel.

Aan die begin van 1976 het André Goosen praktiese pistoolskiet aan die klub bekendgestel en dit het soveel byval gevind dat die skyfskiet-afdeling mettertyd doodgeloop het. Van 1977 het lede begin om tydens kompetisies uit te blink. Goosen is in 1981 as wêreldkampioen in sy afdeling gekroon en Raymond le Clus het diens as nasionale baanoffisier gedoen.

Om hul vaardighede te slyp, het die klub eers Hoërskool Rob Ferreira se .22-skietbaan gebruik, daarna na ‘n ou gruisgat op die plaas Nooitgedacht geskuif en kon toe later na hul eie skietbane naby die Witrivier Rugbyklub trek, wat steeds gebruik word.

Die klubhuis is deur Jan en Elsie Botha, twee van die lede, as skenking gebou. Skietdae was gesellige geleenthede en die vroue het gesorg dat daar oorgenoeg koek en tee was. Op ‘n stadium het die klub 100 lede gehad.

Daar is tans 65 klublede, waarvan verskeie gereeld aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe deelneem. Hulle is veral trots op twee van hul junior lede wat hierdie jaar baie goed in praktiese skiet gevaar het. Die 19-jarige Rosco Becker het sy Protea-kleure verwerf en verteenwoordig tans Suid-Afrika in die wêreldkampioenskappe in Florida, VSA. Carmen Sales, ‘n gr. 9-leerling van Hoërskool Rob Ferreira het tydens die SA Kampioenskappe die vroue-afdeling gewen en goud verower.

Die klub se amptelike oefening vind die eerste Saterdag van die maand by hul skietbane plaas. Belangstellendes kan Gideon Botha, die sekretaris, by 076-753-5003 skakel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button