Vegkunstenaar een van die bestes in die Laeveld
Christo van Wyk het binne vier jaar sy swartbelt in Tang Soo Do verower en wil sy yon dan (vierde dan) om sy lyf bind voordat hy 45 word.

Hy is die stigter en afrigter van die uiters suksesvolle Tranquillity-klub en het tans 52 studente. Van Wyk wag om te hoor van sy insluiting in die Suid-Afrikaanse Presidentespan wat volgende jaar Junie na Las Vegas vir die wêreldkampioenskappe toer. Dit sal die vierde keer wees wat hy vir dié span verkies word.
Die 37-jarige het in 2007 by Wolves Academy aangesluit nadat sy oudste kind, Emuné die sport begin beoefen het. “Deur die jaar is daar vier toernooie waarin jy goud of silwer moet verower om in aanmerking vir die span te kom. In my eerste jaar was ek onoorwonne en is vir die eerste keer gekies. Daardie jaar was die span na Poland waar ek ‘n brons in bordbreek gekry het,” vertel hy.
In 2010 het hy sy eie klub geopen. ‘n Jaar later is hy weer vir die presidentespan gekies wat in Orlando, Florida in Amerika gehou is. Hier het hy ‘n tweede plek in die vegkategorie verower.
Holland, wat tans die topposisie op die punteleer beklee, het in 2013 die wêreldkampioenskappe aangebied. Van Wyk het ‘n vierde plek in die veg- en vormskategorieë beklee. “Suid-Afrika was al die jare die top-land, maar dit het onlangs verander. ‘n Plek soos Holland se inwoners is bekend vir hul lengte en in die sport speel dit ‘n groot faktor.”
Hierdie jaar was die eerste keer wat Tranquillity ‘n toernooi aangebied het. Dit het einde September by Mbombela Stadion plaasgevind en ses klubs met 90 studente het aan die verkiesingstoernooi deelgeneem.
‘n Groot uitdaging is tyd. “Dit is moeilik om fiks te bly en om na jouself te kyk. Ek sal dit graag permanent wil doen, maar dit is nie nou moontlik nie.”
Van Wyk wil agt van sy huidige studente wat tans rooibelde het, swartbelde laat verower. Dit behels dat die student die hele jaar se sillabus moet ken en ses planke moet kan breek.
Emuné (13) gaan in Desember vir haar swartbelt en sal die eerste student van Tranquillity wees wat dié vlak bereik het. Sy was ook saam met die presidentespan na Holland en Orlando.
