Nasionale fiestryspan presteer puik in Spanje
Die direkteur van die padfietskommissie van Fietsry Suid-Afrika, Bosseau Boshoff het onlangs van die Internasionale Fietsry-unie (UCI) se padfiets-wêreldkampioenskappe in Ponferrada, Spanje teruggekeer.

Die afgetrede padfietsryer van Suid-Afrika, Robbie Hunter en Boshoff het ‘n span van 16 ryers en drie personeellede oor 10 dae vergesel. Die Mbombela-fietsryer, Willie Smit het in die o/23-kategorie vir mans deelgeneem. “Ons het nie so goed gevaar soos wat ons wou nie, maar die baan het ons ryers nie gepas nie en dit was moeilike weersomstandighede. Die 22-jarige, Louis Meintjies is ‘n klimmer en nie ‘n snelryer nie. Ons wou hom bitter graag op die podium gehad het, maar die planne het net nie so uitgewerk nie. Hy was baie gevaarlik en hy was verseker die sterkste ryer in die groep. Willie se rol was nie om te wen nie, maar om die nodige ondersteuning aan Louis te gee.” Alhoewel Smit nie onder die top-ryers geëindig het nie, is Boshoff baie tevrede met sy tyd. “Die publiek kyk na die punteleer en dink Suid-Afrika het nie goed gevaar nie, maar die ryers se tye het baie verbeter.”
Boshoff het die ongelooflikste plekke gesien wat ‘n ou kasteel van die 11de eeu, waar hy een aand ‘n vergadering bygewoon het, ingesluit het. Hy en Hunter was deel van die karwei wat agter die Suid-Afrikaners gery het. “Ons het hoendervleis gekry elke keer as ons Louis en die ander ryers se name gehoor het. Daar was derduisende mense, wat ten spyte van die baie reën, die ryers langs die pad aangemoedig het.”
Die dag met hulle aankoms op Aeropuerto de Madrid-Barajas, was die bus wat hulle na hul verblyf net anderkant Ponferrada moes vervoer het, nie daar nie en van die ryers se baggasie het weggeraak. “Die dogters het reeds daardie Maandag deelgeneem. Ons het ‘n motor gehuur en na 460 kilometer het ons uiteindelik by die gastehuis aangekom. Ek het die mans eers die volgende dag by die spoorwegstasie opgelaai en teen die Dinsdag was al my varkies in een hok.”
Hoewel die ryers nie na wense presteer het nie, was hierdie kampioenskappe deel van ‘n leerproses tot die opbou van die Statebond Spele in 2018 in Australië se Goue Kus en die Olimpiese Spele in 2020 in Tokyo, Japan.
“Die Suid-Afrikaanse padfietskampioenskappe vind volgende jaar in Mbombela plaas en dit is ook die land se geleentheid om vir die Spele te kwalifiseer.” Om dit reg te kry, moet die SA span eerste eindig. Tans kwalifiseer daar net een ryer vir die Spele, maar as SA eerste eindig, kan vyf ryers die geleentheid kry om Japan toe te toer.
Is Boshoff spyt dat hy die direktuerspos aanvaar het? “Nee wat. Dit is baie uitdagend en ek is meer gereeld en vir langer weg van die huis af, wat sleg is, maar dit is ‘n wonderlike geleentheid wat ek reeds baie geniet.”
Die meeste ryers vat tans ‘n drie-week lange blaaskansie voordat hulle vir aanstaande jaar se seisoen begin voorberei. Die Momentum 94.7-padfietswedren vind vroeg in November plaas waar ‘n hele paar van die Laeveld se plaaslike ryers in aksie sal wees.