Local sportSport

Atletiek: NHS-atlete sorg vir ‘n rekordfees !

Die jaarlikse Elardus Erasmus-atletiekbyeenkoms te Mookghopong, word allerweë as een van die grootstes in die land gereken.

Hoërskool Nelspruit neem gereeld aan hierdie prestigeryke byeenkoms deel, maar nog nooit tevore het die Nellies om so baie uitmuntende vertonings, nuwe Nellie-rekords en ‘n wavrag vol persoonlike bestes, huis toe gekom nie.

‘n Totaal van 42 van die top-atletiekskole het vir die seunsafdeling van hierdie Top 20-skouspel ingeskryf, en daar is ABSA-punte vir elke prestasie toegeken, met die gemiddeld van elke skool se beste 10 vertonings, wat dan vir die finale posisies in ag geneem is. NHS se seuns het ‘n puik sesdeplek verower – heelwat beter as ander jare. Die maksimum ABSA-punt wat vir elke item verwerf kan word, is 1200. Nellies se gemiddeld was ‘n ongelooflike 1052 punte, wat die geweldige hoë standaard duidelik onderstreep.

Die Laevelders se dogters se gemiddeld was 849, wat aan hulle ‘n baie goeie dertiende plek, uit 39 deelnemende spanne, besorg het.

Die naam van die 14-jarige Stefan Smit gaan nog baie gehoor word. Hierdie uithaler veldatleet van Nelspruit, was vroeër vanjaar beseer, maar het hard deur die winter gewerk en sommer met die intrapslag, gewys dat hy nie sommer in die nuwe seisoen sy gelyke sal teëkom nie. Stefan (nog in gr.8) het in die onder 14-afdeling, die werpskyf op ‘n allemintige 54,54m laat grondvat – en daarmee ‘n voltal van 1200 punte ingesamel, en op die koop toe, kleingeld van Frans Schutte se Nellie-rekord (50,00m) gemaak. Sy skitter-afstand van 60,25m in die spiesgooi, het ‘n indrukwekkende 1191 punte tot die span se totaal bygevoeg. Dit was ook ‘n nuwe byeenkomsrekord. SA-kampioen Stephan van der Bank het ook nie op hom laat wag nie. Hy verbeter sy pb na 67,35m (spiesgooi, s.15) en behaal ook ‘n pragafstand van 16,81m in gewigstoot. Werner Bouwer, die SA-spiesgooikampioen in 2013, het in die onder16-afdeling sy eie Nellie-rekord van 62,25m, na ‘n uitstekende 62,55m verbeter.

Onder die meisies het veral Nerina Visser ‘n uitstekende byeenkoms beleef, In beide die 90m hekkies (13.39 sek.) en 300m hekkies (46.47 sek.) het sy persoonlike bestes opgestel (sy is nog onder 15). Met laasgenoemde tyd het sy ook ‘n nuwe Nellie-rekord daargestel. Sy het Charlotte Klopper se rekord van 46.60 sek. wat in 1999 opgestel het, verbeter. Marne van Aarde gooi die onder 14-spies 30,90m, wat haar beste afstand vanjaar (30,24m) oortref het. Lizaan de Blanche se 2:21.18 in die 800m m.14 verdien beslis ook vermelding. Ilke Joubert (meisies 15) se reuse poging van 12,35m in die gewigstoot, het gewis ook die oë laat rek.

Ander Nellies wat eweneens met baie mooi vertonings vorndag gekom het, sluit in:

Rainer Spruyt: 1500m s.14 – 4:29.89 (nuwe rekord), ook 800m (2:09.20)
Joshua Maas: spiesgooi s.14 – 53,28m
Naas Marais: skyfwerp s.15 – 48,98m, ook gewigstoot – 15,30m
Henco Pieters: skyfwerp s.15 – 49,00m
Wandla Nkosi: 800m s.16 – 1:57.89, ook 1500m – 4:03.69
Gronighan Grobler: 800m s.17 – 1:55.20, ook 400m – 50.54 sek.
Marnus vd Merwe: skyfwerp s.17 – 53,91m, ook gewigstoot – 15,35m
Mia Erasmus: 800m m.15 – 2:27.37, ook 1500m – 5:05.04
Carmen Cronje: 100m hekkies m.16 – 15.39 sek.
Ilke Joubert: spiesgooi m.15 – 33,02m
Liezel de Jager: 100m m.17 – 13.01 sek.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button