Swemmer het oog op glorie
Liza-Mari Drummond is die enigste dogter van Mpumalanga wat vir die Suid-Afrikaanse Swem Jeug Nasionale Byeenkoms gekies is.

Dié 15-jarige, wat tans vir Uniswim wegspring, is twee weke terug in kennis gestel dat sy aan die begin van Maart 2015 in Durban gaan deelneem. Sy het vir die 100m vryslag vir dogters o/15 gekwalifiseer. Sy het met 01:02 dié prestasie met splits van 46 sekondes bereik. Dit is ook haar persoonlike beste tyd.
Sy het haar vlak drie in Maart in Kaapstad verower en was ook vir die 2013/14-termyn deel van die provinsiale swemspan. By die onlangse provinsiale toekenningsaand, het sy die trofee vir die beste individuele prestasie van die jaar vir die 50m vryslag verower.
Sy was verlede jaar ‘n leerder van Hoërskool Barberton voordat haar gesin vanjaar Mbombela toe getrek het. Sy gaan tans by Hoërskool Nelspruit skool. Sedert sy ‘n haasbekkie was, was sy gaande oor water. “Ek het in 2009 vir die eerste keer die provinsiale span gehaal en in 2013 het ek eers regtig goed begin swem. Mpumalanga se hoë-instituutspan het my swemstyl baie verbeter.”
Sy het dadelik met vlak twee in 2011 begin. Liza-Mari is ook deel van Mpumalanga se sport- en rekreasievereniging wat beteken dat net vyf swemmers in die provinsie tydens weg-byeenkomste geborg word. “Ek beoog om volgende jaar een minuut skoon te swem en, om dit te bereik, sal ek twee keer harder as wat ek tans oefen, moet werk. Die geleenthede is oneindig.”
Haar uiteindelike doel is om deel van die span vir die 2020 Olimpiese Spele te wees wat in Tokyo, Japan plaasvind, maar voor dit wil sy eers aan die Statebondspele in 2016 deelneem. “Die volgende vlak waarvoor ek sal kan kwalifiseer, is die Suid-Afrikaanse Senior Nasionale byeenkoms. Ek moet my tyd met 27 sekondes verbeter.”
Haar held is die Suid-Afrikaanse swemmer, Karin Prinsloo, wat deel van die 2012 Londen Olimpiese Spele-span was. “Sy het self vir my gesê ek gaan nog ver met my swem kom. Ek sal dit aanhou glo en aan daardie woorde vasklou. “As jy voel jy wil ophou, moenie. Hou aan tot jy deur die muur breek.”
