Swemmers gee hul alles in gala
Mpumalanga se beste swemmers is Vrydag by die top-skole gala by Van Riebeeckpark gekroon. Altesaam 236 leerders van 19 hoërskole het deelgeneem.

Delano van Rooyen (o/16) van Uplands College het die water warm geswem en vier eerste plekke verower, wat hom 732 punte besorg het. Hy het met sy eerste item van die aand die 200m-individuele wisselslag met ‘n tyd van 2:32:06 gewen. Daarna het hy die 50m-vryslag (25:50), 50m-rugslag (32:51) en 50m-vlinderslag (28:09) gewen.
Die atleet wat vir die Suid-Afrikaanse nasionale jeugbyeenkoms gekies is, Liza-Mari Drummond, het 695 punte vir haar eerste posisies in drie items ingesamel. Die Hoërskool Nelspruit-leerder het in die 50m-vryslag vir o/15 die goue medalje in ‘n tyd van 28:25 losgeswem. Sy het ook goeie tye in die 50m-rugslag (32:21) en 50m-vlinderslag (33:06) behaal.
Bergvlam se staatmaker-swemmer, Elsabe Rautenbach, wat ook vir o/15’s weggespring het, het die victrix ludorum-trofee vir haar vyf items verower. Sy was eerste in die 200m-individuele wisselslag (2:39:01), tweede in die 50m-vryslag (30:41), eerste in die 50m-borsslag (38:18), derde in die 50m-rugslag (37:37) en in die 50m-vlinderslag het sy ‘n tweede plek (33:21) behaal.
Nóg ‘n swemmer van Uplands, Landau van Rooyen, het met vyf eerste plekke, die victor ludorum huis toe gevat. Dié o/14-seun het sommer die afskop-item, die 200m-individuele wisselslag, in ‘n tyd van 2:39:01 gewen.
Daarna het hy ook eerste plekke op die podium vir die 50m-vryslag (27:66), die 50m-borsslag (38:06), 50m-rugslag (35:35) en die 50m-vlinderslag (30:69) ingeneem.
