Broer en suster deel hul passie vir fietsry
Beide Reghardt en Megan stem saam dat hulle altwee fietsry omdat hulle dit vreeslik geniet.
by Mankele.
Sy ry stof in die seuns in haar kategorie se oë en bewys dat meisies net so goed, of dalk beter as seuns op ‘n bergfiets is.
Op negejarige ouderdom is Megan Wiehman, ‘n leerling van Laerskool Bergland, nog ‘n nuwe gesiggie in bergfietsrykringe maar sy het soos ‘n gesoute deelnemer die Spur-skolereeks se “nipper”-kategorie gewen en ry nou die Laeveld soos ‘n ervare fietsryer plat.
In die Das Auto-reeks het sy in die “sprog”-kategorie vir 11- en 12-jariges deelgeneem aangesien daar nie ‘n jonger ouderdomsgroep is nie en skitterend gevaar. Sy het eerste in die laaste kragmeting van die seisoen gekom en tweede in die kategorie geëindig.
“Sy is vreesloos en dit is wat haar die deurslag gee,” vertel haar ouer broer, Reghardt, wat selfs ‘n kranige bergfietsryer vir Hoërskool Nelspruit se bergfietsspan is.
Reghardt is in beide die Spur- en Das Auto-reeks onder die toptien-deelnemers van sy kategorie en het onlangs ‘n derde plek in die Isuzu Three Towers behaal.
“Ek het nog nooit aan die tradisionele skoolsporte deelgeneem nie. Toe besluit ek om bergfiets te probeer en van daar het my passie die afgelope vier jaar net toegeneem,” vertel Reghardt.
“Dit is baie lekker en ‘n goeie uitdaging elke keer wanneer ek deelneem,” sê Megan en glimlag breed vir haar broer.
“Hy is my held en hy is ‘n baie cool boetie,” voeg sy by.
“‘n Mens moet maar die komplimente vat as dit na jou kant toe kom. Bonuspunte vir my,” is sy reaksie.
Al neem Reghardt gereeld aan die Spur- en Das Auto-reeks deel, verkies hy om aan langer afstande en marathonbergfietsrenne deel te neem.
“Ek hou van die langer afstande omdat dit ‘n mens fisies toets en ek ry ook nie vinnig genoeg om konstant goed in die korter afstande te doen nie.”
“Ek sal graag eendag die Cape Epic en
Cape Pioneer Trek wil ry, maar ek moet eers geld kry,” sê hy beskeie.
Megan en Reghardt oefen net soms saam aangesien daar ‘n groot ouderdomsverskil tussen die twee is.
“As ek kan, sal ek vir haar ‘n paar roetes by Bateleur-landgoed wys en hoe om hulle te ry,” verduidelik Reghardt.
Beide Reghardt en Megan stem saam dat hulle altwee fietsry omdat hulle dit vreeslik geniet.
“Dit maak nie sin om iets te doen as jy dit nie geniet nie.”
Volgens Reghardt gaan dit nie oor hoe jy begin nie, maar hoe jy eindig.
“Begin vinnig, ry vinniger, eindig die vinnigste,” som hy sy bergfietsfilosofie op.
Met dié benadering lyk die vooruitsigte goed dat daar nog baie sukses agter die volgende bult op die Wiehmans wag.
