Vyf nuwelinge gaan Pumas meer diepte gee
Die Steval Pumas het vyf nuwe aanwinste vir volgende jaar se rugbyseisoen vasgemaak.

Die Luiperd-heelagter wat ook vir Pukke se Varsitybekerspan uitgedraf het, Hoffman Maritz sal die Laevelders se diepte op heelagter en buitesenter verbeter. Hulle het ook ‘n groot slag geslaan deur die dienste van die witkop-flank van die
Griekwas, Marnus Schoeman te bekom.
Dylon Frylinck, Ashwin Scott, Deon Scholtz en RW Kember se kontrake is nie vir die 2015-seisoen hernu nie.
Daar word nog met die Blitsbok wat deel van die Bokkies se Junior Wêreldbekergroep in 2012 was, Shaun Adendorff onderhandel.
Die Westelike Provinsie se Neil Rautenbach kan ook eersdaags sy rugby in Mbombela speel.
Die vlugvoetige vleuel van die Pienkes, Rosko Specman is nie vir volgende jaar se Vodacombeker beskikbaar nie aangesien hy saam met die Blitse gaan oefen.
Nóg Pumas wat nie vir dié toernooi in aanmerking sal kom nie, is die voorspelers Corné Fourie, Rudi Mathee, Faf de Klerk en die senter, Stefan Watermeyer.
Die vier sal weer volgende jaar vir die Lions se Super Rugby-groep speel.
Nuwe gesigte in die groep
• Jannie Stander (slot, Leeus o/21)
• Simon Westraad (haker, GWK Griekwas)
• Patrick O’Brien (flank, Westelike Provinsie).
Spelers wat hulle rugby elders speel
• Coenie van Wyk (heelagter, Cheetahs)
• JW Jonker (vleuel, Cheetahs)
• Stephan Kotzé (GWK Griekwas).
