Inwoners bekommered oor atletiekbaan
Plaaslike belangstelling oor die internasionale-standaard atletiekbaan wat beplan word vir Komatipoort Akademie, was teleurstellend tyds verlede week se openbare vergadering oor die aangeleentheid.
KOMATIPOORT – Plaaslike belangstelling oor die internasionale-standaard atletiekbaan wat beplan word vir Komatipoort Akademie, was teleurstellend tyds verlede week se openbare vergadering oor die aangeleentheid.
Jan Engelbrecht, voorsitter van Nkomazi East Chamber of Commerce and Tourism Association (Neccta), die skoukomitee en skoolhoof Olmen Lombaard het verlede Dinsdag om 17:30 ‘n openbare vergadering gehou om vrae oor dié beplande ontwikkeling te beantwoord.
Inwoners se kommer oor die projek het meestal oor die alternatiewe roete deur die dorp en infrastruktuur gegaan. Anette Vermaak was bekommerd dat die dorp se sportgronde dalk nie meer tot die beskikking van die inwoners sal wees nie, maar Engelbrecht het haar verseker dat die huidige komitees wat die skool en skougronde bestuur steeds so gaan aanhou.
Vermaak het genoem dat mense die korfbalbane en gimnasium gebruik.
Volgens Engelbrecht gaan nie veel verander nie. “Die skool en die skougrond gaan net een perseel word. Om dit te doen gaan ons ‘n stuk van Wildebeeststraat moet afstaan, meeste mense voel dat die pad ‘n beter alternatief is as Rissikstraat wat te veel smouse het. Ek weet, ek self gebruik ook die pad as ‘n alternatief. Ek voel jammer vir die mense in Rissikstraat want hulle het nêrens anders om handel te dryf nie. Ons het die munisipaliteit aangesê om ‘n perseel te voorsien en hulle is huidiglik besig om ‘n area oorkant die SPAR-winkelsentrum vir hulle voor te berei, wat die verkeer van voetgangers en minibusse drasties in die straat te verminder. Mense, ons moet hierdie projek aanpak, anders gaan hierdie skooltjie vir alltyd so klein bly.”
Lombaard het gesê, “Ons skool akkommodeer reeds al die kinders van Nkomazi en die distrik. Dit gaan nie die infrastruktuur van die skool op enige manier beïnvloed nie, want dit gaan dieselfde bly.”
Engelbrecht het erken dat Komatipoort met krag en water sukkel maar het bygevoeg dat die dorpsraad ondersteuning nodig het. “Ons krag het baie verbeter sedert verlede jaar, en dit is deur samewerking moontlik gemaak. Ons water is steeds ‘n probleem maar daar is stappe wat in plek is om dit aan te spreek. Ons sal wen wanneer al die partye saamwerk en so ons dorp verbeter.” het hy gesê.
