Kaskardag groot pret ten spyte van reën
Almal is miskien nie groot kunstenaars in wording nie, maar in elke kind is daar die vermoë om die lewe só te geniet dat dit opsigself vir volwassene na ‘n kuns lyk - en dit alles sonder vrae oor wat more mag bring.

Pablo Picasso het gesê: “All children are artists. The problem is how to remain an artist once he grows up.”
Almal is miskien nie groot kunstenaars in wording nie, maar in elke kind is daar die vermoë om die lewe só te geniet dat dit opsigself vir volwassene na ‘n kuns lyk – en dit alles sonder vrae oor wat more mag bring. In ‘n wêreld waar stres, depressie en angs so deel van ons bestaan geword het, was dit met hernude wonder wat Barberton Times Vrydag die leerders van Laerskool Barberton aanskou het.
Dit was tydens hulle jaarlikse F1 Kaskardag by Bouwerpark. Soos die meeste ander jare was die dag bewolk en motreën het elke dan en wan uitgesak. Nogtans het die koue en die nattigheid nie een van die kleingoed afgeskrik nie.
In ons grootmenskoppe is dit haas onmoontlik om te dink dat iemand soveel genot daaruit kan put om in die koue en reën, bibberend met swemklere van die een na die ander waterspeletjie en kaskarresies te hardloop – en dit boonop met oorgawe en sonder inhibisie te doen.
Die volgende feite het op Vrydag opnuut na vore gekom. Kinders leef in die hede, sonder enige verbeeldingsperke. Hulle het die vermoë om hulself in spel te verloor, is eindeloos nuuskierig en is skeppend met oorgawe. Volwassenes kan baie van kinders leer. Ongelukkig verloor volwassenes te dikwels hierdie kinderlike natuur as gevolg van die samelewing se instellings.
Dit is dan wanneer mens jouself moet terugdink tot in die verlede toe jyself kind was, want jy met kinder-oë kyk, sink Picasso se woorde werklik in – dat die probleem waarmee die mens sit nié is dat die kunstenaar afwesig is nie, maar dat daar gewaak moet word om hom nie iewers langs die pad te verloor wanneer jy skielik grootmensskoene moet volstaan nie.
Welgedaan Laerskool Barberton, julle kaskardag was, reën of te not, iets baie besonders.
