Local sportSport

Nellies se krieket-ysters is tops

Hierdie span het deur die loop van die seisoen 'n paar harde lesse aan hul teenstanders uitgedeel. Die kolfwerk was kragtig, die boulwerk vurig en die veldwerk vinnig.

Onoorwonne, onoortreflik en oortuigend. Dit is hoe ‘n mens Laerskool Nelspruit se uitmuntende Crown National o/13-A-krieketspan kan beskryf wat die Mpumalanga-finaal teen Laerskool Klipfontein met 83 lopies op Donderdag 30 Oktober gewen het.

Hierdie span het deur die loop van die seisoen ‘n paar harde lesse aan hul teenstanders uitgedeel. Die kolfwerk was kragtig, die boulwerk vurig en die veldwerk vinnig.

Die finaal was weer ‘n bewys van Nellies se briljante seisoen toe hulle ‘n massiewe 233/6 in

30 boulbeurte gemoker het. Klipfontein kon net 156/9 in 30 boulbeurte behaal.

Speler van die wedstryd, Tristan Parnell, het 54 (36) geslaan en saam met Mathee Joubert het hulle die grondslag met ‘n blitsvinnige 86 lopie-vennootskap gelê.

Chyle van Zyl met 36 (20) en Joubert 56 (71) het toe die krane verder oopgedraai met ‘n paar aggressiewe houe en ‘n paar groot sesse wat die telbord aangeskuif het. Nellies het op ‘n formidabele 233/6 geëindig.

Klipfontein het ‘n swak begin gehad en twee vinnige paaltjies verloor nadat Jacques Vosloo en Chyle van Zyl die druk met hul ekonomiese boulwerk gebou het. Van Zyl het veral beïndruk nadat hy slegs ses lopies vanaf sy vier boulbeurte afgestaan het, en ook ‘n paaltjie of twee ingeoes het.

Tristan was weer Nellies se paaltjievraat en het drie Klipfontein-kolwers terug na die pawiljoen gestuur. Parnell het met syfers van 3/28 gespog.

Nellies se oorwinning was ‘n antiklimaks op die ou einde, toe Klipfontein later besef het dat hul nie die reusetelling sou kon haal nie. Jandré van der Walt het sy bes probeer om so naby as moontlik aan die tuisspan se telling te kom met ‘n goed-georganiseerde

73 lopies.

Van der Walt kon ongelukkig niemand kry om saam met hom ‘n ordentlike vennootskap op te stel nie en toe Zane Meyer vir 13 uitgehardloop is, was die koeël deur die kerk.

John-Helm Brink was ook ‘n uitstaande voorbeeld van die kwaliteit van die tuisspan se veldwerk toe hy ‘n briljante vangskoot gekry en vir ‘n uithardloopkans verantwoordelik was. Devon Nel het ook ‘n puik vangskoot benut om van Klipfontein se Van der Walt ontslae te raak.

Toe die finale bal geboul is, kon hierdie superspan feesvier nadat hulle die Mpumalanga-liga gewen het. Die is die vyfde agtereenvolgende keer dat hulle span die liga wen.

Elke speler het sy kant gebring om seker te maak dat Nellies so ‘n gedugte span is. Daar moet ook vermelding aan die afrigter Ade Adendorff se leiding deur die loop van die seisoen gegee word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button