Damwater bied groot uitdaging vir swemmers
Alhoewel die son maar sku was om sy strale te deel, was dit die ideale dag vir die tweede ope-waterswemreeks om af te skop.

Die Funky Pants-swemuitdaging het Saterdag by Lake Longmere plaasgevind. Die eerste swemmers het reeds vroeg die oggend die yskoue water aangedurf. Jordyn Minifie het in dogters 13 en onder, die goue medalje met ‘n tyd van 19:04 verower. Dylan van der Merwe was die vinnigste man uit die water in die 14- tot 30-jarige 1 500m-kategorie in ‘n tyd van 18:16. Karolien van Heerden het in dieselfde kategorie die heuwel in ‘n tyd van 17:36 opgehardloop.
Sy mag dalk 60 wees, maar Ann Andrews het nog baie murg in haar pype. Dit was haar eerste ope-waterswem en sy was ook die oudste deelnemer. Sy het die 1 500m vir vroue 31 en ouer in ‘n tyd van 33:27 klaargemaak. Cayden Fowler (9) was die jongste swemmertjie en sy het die item in 33:31 voltooi.
Altesaam 24 swemmers, wat selfs ‘n paar ouers ingesluit het, het aan die 400m-pretswem deelgeneem.
Dink so hieraan: 1 500m is amper vier keer om ‘n atletiekbaan.
Is jy in staat om só ver te kan swem? Moet nie die volgende reeks op 22 November misloop nie.
Ander uitslae
• Vroue 31 jaar en ouer: Michele Esterhuizen (21:57)
• Seuns 13 jaar en onder: Vidhaan Singh (19:47)
• Mans 31 jaar en ouer: Chris Stapley (21:14).
