Swemmers van alle ouderdomme durf Lake Longmere aan
Die Funky Pants-swemuitdaging het 'n paar geesdriftiges Saterdagoggend vroeg uit die vere gejaag.
Alhoewel die son Saterdag baie suinig was om sy strale te deel, was dit die ideale dag vir die tweede ope-waterswemreeks om by Lake Longmere af te skop.
Die eerste swemmers het reeds vroeg die oggend die yskoue water aangedurf vir die Funky Pants-swemuitdaging. Jordyn Minifie het vir dogters 13 en onder, die goue medalje in ‘n tyd van 19:04 verower. Dylan van der Merwe was die vinnigste man uit die water in die 14- tot 30-jarige 1 500m-kategorie in ‘n tyd van 18:16. Karolien van Heerden het in dieselfde kategorie met ‘n tyd van 17:36 die heuwel opgehardloop.
Die sestigjarige Ann Andrews het nog baie murg in haar pype en was die oudste deelnemer. Dit was haar eerste ope-waterswem en sy het die 1 500m vir vroue 31 en ouer in ‘n tyd van 33:27 klaargemaak.
Cayden Fowler (9) was die jongste swemmertjie in die water en sy het die item in 33:31 voltooi. Altesaam 24 swemmers, wat ‘n paar ouers ingesluit het, het aan die 400m-pretswem deelgeneem.
Die volgende reeks vind op 22 November plaas.
Ander uitslae:
• Vroue 31 jaar en ouer:
Michele Esterhuizen 21:57
• Seuns 13 jaar en onder:
Vidhaan Singh 19:47
• Mans 31 jaar en ouer:
Chris Stapley 21:14.
