Amateur-gimnaste verskaf ouers hope genot
Die skaam glimlaggies en huiwerige toertjies van kleuters het gedurende hul jaareind-toets gou toeskouers se harte laat vermurwe.
Die groentjies van die Witrivier Gimnastiekklub het verlede week hul ouers met hul talent beïndruk. Die kleuters en amateurklasse – een, twee en drie – het Donderdag hul toets ondergaan.
Na afloop van die dag het die afrigter, Maré Putter, gesê dat dit baie goed afgeloop het. “Die kleintjies het in die afgelope jaar baie sterker en slimmer geword. Elkeen het ‘n goeie rapport en ‘n medalje huis toe geneem.”
Dit was te dierbaar as die kleuters nou en dan hul ouers se oë vang en skaam-skaam die handjie oplig om te waai. ‘n Hele paar pappas en mammas was baie trots op hul kleingoed se vermoë en vordering.
Die volgende gimnaste het trofeë ontvang:
• Kleuter: Duné Haasbroek
• Amateurklas een: Max Dalrymple en Lynn Mathanda
• Amateurklas twee: Teya Swanepoel
• Amateurklas drie: Rochelle Nel.
