Local sportSport

Duane saam met van die wêreld se bestes benoem

Die Laeveld se trotse uitvoerproduk en ook Springbok-rugbyspeler, Duane Vermeulen, is op die kortlys van vyf wat die kans staan om as as die Internasionale Rugbyraad se Speler van die Jaar aangewys te word.

MBOMBELA – Hy deel dié eer met nog ‘n Springbokspeler, Willie le Roux asook die Nieu-Seelandse spelers Brodie Retallick en Julian Savea en Jonathan Sexton van Ierland. In 2007 was Bryan Habana die laaste Springbok om dié toekenning te ontvang.

Duane het sy rugbydae kaalvoet op die velde van Laerskool Nelspruit begin, waarna hy Hoërskool Nelspruit toe is en hy met trots die eerstespanrugbytrui gedra het. Daarna is Duane vir die Pumas o/18-Cravenweekspan in 2004 gekies en het ook die provinsie op o/20, 0/21 en senior vlak verteenwoordig. Dié vurige losvoorspeler is deur Rassie Erasmus raakgesien en het48 wedstryde vir die Free State Cheetahs en Cheetahs in die Curriebeker en SuperRugby-kompetisies gespeel. Duane speel tans sy provinsiale rugby vir Westelike Provinsie en die Stormers en het al meer as 100 keer vir dié spanne uitgedraf. Dié 1,93 meter lange Laevelder het in 2012 sy debuut as Springbok gemaak en speel more sy 26ste wedstryd vir Suid-Afrika. Sy lof word oral besing en sy ongelooflike spel in die wedstryd teen die All Blacks op Ellispark het hom die Speler van die Wedstryd-toekenning besorg.

Stem vir hom hier!

twitter_duane

“Dit is wonderlik om genomineer te word en baie dankie vir almal in die Laeveld wat my ondersteun,” het Duane gister gesê.

Sy trotse ma, Estelien Vermeulen, het gister aan Laevelder gesê haar hart loop oor van trots. Sy probeer om soveel moontlik van sy wedstryde by te woon en al die ander kere sit sy voor haar televisie in Mbombela vasgenael. “Ek was gedaan met daardie wedstryd teen die All Blacks. My kind se ribbes was gekraak en tot minute voor die wedstryd het ons nie geweet of hy gaan speel nie. Toe speel hy die beste wedstryd van sy lewe! Die Laevelders moet asseblief vir Duane stem, dit sal so ‘n groot voorreg wees as hy die toekenning wen,” het sy emosioneel gesê.

Duane se laerskool eerstespan-afrigter Ade Adendorff het gister gesê die skool is trots op sy prestasie. “Duane was altyd nederig en het omgegee vir sy medespelers en maats,” aldus Adendorff. “Duane was in gr. 7 in 1999 toe hy vir die Nellies se eerstespan gespeel het. Hy het reeds in daardie jare in die vreugde van ‘n wenspan gedeel, aangesien die Nellies-eerstespan in 1999 wenners van die Laeveld-, en Mpumalanga-liga was en derde in Transvaalse Bondedag in Pretoria geëindig het. Hy het flank en slot gespeel. Duane was goed gemotiveerd en altyd bereid om te leer. Hy het ook met sy voorbeeld gelei.”

Sy rugby-afrigter, Paul Harley, het trots vertel dat dit nie met ‘n gawer ou kon gebeur het nie. “Hy het altyd 110 persent gegee maar het nederig gebly. Hy het verkies om uit die kollig te bly en was nie bang om die harde werk in te sit nie. Hy het eers sy tande by die Pumas en Cheetahs geslyp voor hy vir WP en die Stormers gespeel het. Ons is almal baie trots op hom en hou styf vir hom duimvas,” het hy gesê.

Laevelders wat Duane wil help om dié gesogte titel te wen, moet deur middel van Twitter, die hutsteken #IRBAwards gebruik. Dit kan soos volg lees: “Die IRB Speler van die Jaar toekenning moet aan Duane Vermeulen gaan #IRBAwards.”

Die wenner sal Saterdag na afloop van die Noordelike Halfrond-rugbytoetse aangekondig word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button