Local sportSport

Veelsydigheid is die sleutel tot sy sukses

In die toekoms sal Vosloo graag vir die Titans wil speel en as alles goed uitwerk, vir 'n Proteasspan gekies kan word.

Dit is ‘n groot prestasie om as een van die top-tien o/13-boulers in Suid-Afrika gereken te word en dan boonop ook in tennis uit te blink, maar vir André Vosloo is dit maar net deel van sy daaglikse roetine.

Vosloo (15), ‘n leerling van Hoërskool Nelspruit (NHS) is een van die skool se blinkste opkomende sportsterre en dit blyk dat daar groot prestasies op hom wag as hy aanhou om sy stem op die sportvelde dik te maak.

Vosloo was hierdie jaar deel van die Mpumalanga Skole-tennisspan wat die provinsie in die Boland verteenwoordig het.

“My pa het tennis gespeel en ek het by hom geleer en begin lesse neem toe ek ses jaar oud was,” vertel hy.

Krieket het wel meer natuurlik gekom en Vosloo het op ‘n jong ouderdom blootstelling gekry, waar hy saam met sy nefies gespeel het en op skool hierdie spansport sy groot liefde begin maak het.

Nes die huidige Proteas-kaptein, AB de Villiers, is Vosloo ook ‘n uitblinker op verskillende sportterreine, maar volgens hom is krieket sy nommer een keuse.

“Tennis en krieket komplimenteer mekaar en is al twee baie goeie balsporte en leer ‘n mens verskeie vaardighede.

“Ek hou net meer van dié spansport omdat ek meer gevestig is daarin,” het hy gesê.

Vosloo se grootste oomblikke op die veld was toe hy vir die o/12 Pumas-krieketspan gekies is en toe sy eerste vyftigtal aangeteken het. “Dit was ‘n baie lekker gevoel.

“‘n Ander oomblik wat vir my uitstaan was in ‘n moeilike wedstryd wat ons teen Hoërskool Monument verloor het. Ek het in uitdagende omstandighede 82 geslaan,” vertel hy met ‘n sprankel in sy oë.

Uitdagings is juis iets wat Vosloo aanspoor om sy beste te gee en dit kom in die manier hoe hy speel voor.

Hy sal altyd probeer om die lopietempo op te stoot wanneer hy kolf om seker te maak dat sy span die beste kans het.

Dit is ook ‘n kenmerk van sy krieketheld, Faf du Plessis, wat met sy entoesiasme en wilskrag ‘n permanente plek in die Proteas se middelorde gekry het.

Die veelsydige speler boul en kolf ewe goed en vorm ‘n venynige boulaanval saam met Jon Henrichson wat as een van die gevaarlikste boulaanvlakke in die Laeveld beskou word.

“Ons boul baie goed saam en ons boul ook saam as ons vir die Pumasspan speel en dit maak dit net soveel lekkerder,” het hy vertel.

Die voormalige o/13 Mpumalanga Krieketspeler van die Jaar glo dat al sy prestasies die resultaat van harde werk en ure se opoffering op die veld is.

In die toekoms sal Vosloo graag vir die Titans wil speel en as alles goed uitwerk, vir ‘n Proteasspan gekies kan word.

“Ek sal vir die o/19 span wil speel en dan ook baie graag vir die Proteas speel.

“Ek glo as ‘n mens hard werk daarvoor en dit in die Here se wil is, sal dit gebeur,” het hy met ‘n glimlag gesê.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button