Jong dogter skiet pad oop na haar nasionale kleure
Alhoewel Shannon Pretorius maar eers 13 jaar oud word in Desember, het sy onlangs haar nasionale groenbaadjie vir Suid-Afrika Sport en Jagfederasie verwerf.

Sy het dié gesogte prestasie op 12 en 13 September tydens die nasionale kampioenskappe te Dusty Ranch, Barberton verower. Dié Laerskool Laeveld-leerder het vanjaar eers begin skiet. “Ek het nooit eens geweet van die baadjie nie, maar ek dra hom met trots. Dit is vir my glad nie snaaks om ‘n geweer vas te hou nie en ek sal beslis aanhou om die sport te beoefen.”
Daar het nege provinsies deelgeneem en uit al die junior dogters, het Shannon goud gewen. Met haar CZ.22-kleingeweer het sy ‘n gemiddeld van 95,5 persent gedurende die twee dae gehaal.
“My pa het nogal vir die organiseerders gevra of ons vir die prysuitdeling moet bly. Hy het beslis geweet dat ek goed gedoen het, want hy was baie geheimsinnig,” vertel sy trots.
Dit was ook haar pa, en held, Fourie se eerste keer wat hy aan ‘n kompetisie deelgeneem het.
Haar skoolmaats is half verbaas oor dié nuwe passie van haar. “Maandae in die saalopening kondig hulle gewoonlik sport-prestasies aan, en een oggend het hulle my naam uitegroep. My maats was verstom en ek dink nie die seuns het my geglo nie.”
Sy wou nog altyd saam met haar pa geskiet het en het sommer net een dag saam met hom na die skietbaan toe gery en die geweer opgetel. Sy sal graag volgende jaar in die pyl en boog-, hand- en grootgeweer-afdelings wil deelneem.
Die donkerkoppie het nog nie haar eerste bok gejag nie, maar sy wil binnekort saam met haar pa op ‘n jagnaweek gaan.
“Een van die ooms by die klub het my belowe dat ek ‘n bok op sy plaas kan kom skiet as geskenk vir my goeie prestasie. Ek sal baie graag ‘n springbokkie wil jag. Ek is gek oor wildsvleis, veral biltong.”
Wanneer sy nie teikens skiet nie, speel sy graag hokkie en beoefen ook verspring. Shannon het in 2012 provinsiale kleure in hokkie verower en was deel van die interlaer-atletiekspan.
Sy is ook Dinsdag gedurende haar skool se toekenningsaand as die onderhoofdogter: kultuur aangewys.
