Rekord staan steeds vas na 29 jaar
Na 29 jaar is 'n voormalige leerder van Laerskool Laeveld se naam steeds in die rekordboeke vasgepen.

Fanie Maritz het in 1985 by Laeveld se interhuis-atletiekbyeenkoms ‘n rekord in die hoogspring vir seuns o/11 opgestel wat tot vandag toe nog nie gebreek is nie. “Dit is omtrent ‘n groot eer om te weet dat my rekord steeds staan. Dit sal wel lekker wees om die seun te ontmoet wat hoër as ek kan spring en ek hou elke jaar duimvas vir daardie oomblik.”
Dit was ‘n bloedige warm dag en Fanie vertel dat hy ‘n hele rukkie op die hoogspringmat besig was. Dáárdie jare het Laeveld se interhuis op Hoërskool Bergvlam se gronde plaasgevind.
Dié 39-jarige was deel van die eerste groep gr. 1’s wat by Laeveld ingeskryf het. Hy vertel dat hy nie die hemelbesem in sy graad was nie, maar dat die afrigter Gerhard Coetsee ‘n groot rol in die dag gespeel het. Daardie selfde jaar is Fanie as die victor ludorum aangewys en hy was óók na die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe vir hoogspring en hekkies. Op hoërskool het hy meer op die baanitem gefokus. Sy matriekjaar het hy by Afrikaans Hoër Seunskool voltooi waar hy vir die Wit Bulle se eerste rugbyspan uitgedraf het. “Ek het Noordvaal-kleure in hekkies verwerf en ons atletiekspan en rugbyspan het die direkteurstrofee gewen.”
Fanie het twee kinders – Tyler het verlede jaar haar laerskoolloopbaan by Laeveld afgesluit en is vanjaar by Vlammies en Estiaan (12) trap ook in sy pa se voetspore. Albei dié twee blink met dié velditem uit. Is daar ‘n moontlike paar Hestrie Cloetes wat jy al sien spring het? “Beslis. PJ Coetzee het hom een jaar probeer breek en hy het dit net-net gemis. Trent Askew en Nicola Cronje is ook twee atlete wat ek dink nog ver in hoogspring gaan kom.
Fanie het twee sussies, Liezel (41) en Carlini (30) wat onderskeidelik goed in hekkies en 100m gevaar het.
