‘n Droomjaar vir Renaldo Bothma
Die blondekop-rugbyspeler, Renaldo Bothma het die slothoofstuk van sy droomseisoen van 2014 geskryf nadat hy as Mpumalanga Rugby-unie se Steval Puma van die Jaar aangewys is.

Die unie het Woensdag hul toekenningsaand by Emnotweni gehad waar die jaar se topspelers gekroon is.
Nie net het hy dié gesogte prys ingepalm nie, maar hy is ook as die Nel Trophies Vodacom- én Curriebekerspeler van die jaar aangewys.
“Ek het nie regtig enige verwagtinge gehad nie. Ek is baie geseënd met waar ek nou is en volgende jaar gaan nóg groter wees.”
Die voormalige losskakel – Boklegende Naas Botha, het tydens die verrigtinge genoem dat toekenningwenners vir hulself ‘n standaard stel wat hulle moet uitleef. “Die woorde van Naas lê my baie na aan die hart en ek het reeds vir myself nuwe mikpunte gestel en ek gaan al hoe harder werk om suksesvol te wees – nie net by die Pumas nie, maar by die Sharks en vir Namibië.”
Bothma, wat in dié buurland gebore is, draf volgende jaar vir dié land in die rugbywêreldbeker-toernooi in Engeland uit.
Een van die ander blondekoppe by die Pienkes, Vincent Koch, was óók een van die name wat ‘n paar keer gelees is. Hy is as mees belowende voorspeler, voorspeler van die jaar asook SupaRugby.com SupaPuma 2014 benoem. André Bester van SupaRugby het reeds lank voor die tyd op Koch besluit. “Ons pakvoorspelers het ‘n goeie seisoen op die veld gehad en daar was ‘n hele paar wat hande opgesteek het. André het op die verhoog vir my gesê dat hy die trofee aan my oorhandig omdat hy weet ek gaan eendag ‘n Springbok word. Sy woorde beteken baie omdat hy ‘n gerekende skrywer in rugbykringe is.”
Gerugte lui dat Koch ‘n potensiële Bok in die toekoms kan wees. “Daar is baie gedagtes wat deur my kop maal. Soos mense dit vir my sê, begin ek dit al hoe meer glo.”
Hy is reeds op pad Kaap toe waar hy Maandag by die Stormers se 2015 Superrugby-oefengroep aansluit.
