Gimnassie skitter in Kaapstad
'n Tienjarige gimnas van die Laeveld, Larusha Scheepers, het by die onlangse Gim-spele wat in Kaapstad plaasgevind het, 'n algehele vierde plek vir vlak 4 vir nege jaar verower.

Met ‘n silwermedalje om die nek vir haar puik prestasie op die vloer en ‘n puntetelling van 9,45, het sy haar eie verwagtinge oortref. “Alhoewel ek baie van die balk hou, het ek meer selfvertroue op die vloer gehad, want ek kan nie afval nie. Dit is baie vernederend om af te val, maar dit het darem nog nie vanjaar met my gebeur nie.”
Dit was haar eerste smaak van die Suid-Afrikaanse kampioenskappe en die blondekop vertel dat sy baie trots op haarself is. “Dit beteken só baie vir my.
Om vierde uit 59 gimnaste te eindig, is ongelooflik. Terselfdertyd is ek bly, maar wel ook ‘n bietjie teleurgesteld. Ek kon beter op die brug gevaar het.”
Larusha het óók ‘n derde plek op die podium vir haar spronge ingeneem.
Sy het reeds as gr. RR-haasbekkie by Nellie Miere aan die sport begin deelneem. Die afrigter van die Nelspruit Gimnastiek Akademie, Maré Putter, het haar toe al aangeraai om die sport meer ernstig op te neem. “Dit is lekker om allerhande truuks te kan doen en om my balans te kan hou. Die kondisionering op dié vlak word baie intens en dit is soms uitdagend.”
Larusha se twee kleiner sussies, Lisa en Zoë is tans besig met voorbereidingsvlak 2 en hul groter sussie help graag waar sy kan. “Hulle oefen net voor my en ek hou daarvan om vir hulle te sit en kyk en om na die tyd by die huis hulle reg te help.”
Sy hoop om binnekort met vlak 5 te begin. Vroeër vanjaar by die Eldo-sterre wat in Pretoria gehou was, het sy eerste met ‘n gemiddeld van 9,3 op die brug geëindig.
