Jong stoeier raap ‘n rits pryse by klub op
Neels Smit kan die slothoofstuk van sy sprokiesverhaal skryf nadat hy as Nelspruit Stoeiklub se sportman van die jaar gekroon is.

Dié 15-jarige het die gesogte prys die afgelope naweek by die stoeiklub se jaarlikse toekenningsaand ontvang.
Neels is tans Mpumalanga se tweede beste stoeier in sy ouderdomsgroep en het vroeër vanjaar by die Suid-Afrikaanse Kadetkampioenskappe ‘n bronsmedalje in die Grieks-Romeinse afdeling verower.
Hy is een van ses stoeiers wat vanjaar provinsiale kleure ontvang het. Die ander is AJ van der Lith, Johny Smit, Faantjie Steyn, Vee-André Swanepoel en Justin-Ray Meyer.
Justin is as die provinsiale junior stoeier wat die meeste vordering gemaak het, en as die mees wetenskaplike junior stoeier aangewys. Hy het ook vanjaar by Noordvaal deelgeneem.
Faantjie is as die mees wetenskaplike stoeier (kadet) bekroon en deel met Neels die trofee vir die beste vordering in alle kategorieë.
Hy het ook aan die presidentetoernooi deelgeneem waar hy twee bronsmedaljes verower het.
