Liefde vir sport hou gesin geanker
Die Bergmanns is 'n sportiewe lot - met tennis as hul gedeelde belangstelling.

Daar is min twyfel dat ouers dikwels uitermatig druk sit op hul kinders om in sport uit te blink. Maar vir die kinders van twee buitengewone uitblinkers blyk hul kinders se deelname aan sport genoeg te wees.
Reenen Bergmann het op sy dag self op die ATP-toer gespeel, maar nie professioneel meegeding nie. “Ek was amper,” lag hy. “Jy moet werklik spesiaal wees.”
Reenen praat sy twee dogters graag moed in om tennis te speel. Hy en sy vrou Sanet (‘n voormalige Springbok-korfbalspeler) moedig hulle eintlik aan om aan alles deel te neem wat hulle kan.
“Ons moedig hulle aan om dit te geniet, maar om ook te speel om te wen. En om op provinsiale vlak deel te neem bou karakter. Sport leer kinders belangrike lewenslesse soos dissipline en om hard te werk.”
Maar onrealistiese groot drome koester hulle nie, wat uiteraard nie druk op die kinders plaas nie. Hy sê rugbyspelers het ‘n 1:30 000 kans om professioneel te speel, terwyl dit vir tennis-spelers in Suid-Afrika 1:2 000 000 is.
Boonop kan jy tot jy 70 is tennis speel. Reenen self speel elke Woensdagmiddag saam met ander lede van Nelspruit Tennisklub vriendskaplike wedstryde. Hy was vanjaar die klubkampioen in die enkel- en dubbelspel en het die Laeveld- kampioenskappe gewen. Hy het na 13 jaar as afrigter egter van loopbaan verander, maar help af en toe uit.
Dis wat hy gedoen het toe Zoë (11) en Amberley (13) se afrigter Leoni Myburgh swanger geraak het. Albei sy kinders geniet hom op die baan. Zoë sê, “Dis lekker om deur hom afgerig te word want hy slaan die balle lekker hard. Ek hou ook daarvan dat jy meer aandag so kry as wanneer jy in ‘n groep afgerig word.”
Zoë is baie kompeterend op die sportveld. Sy het vanjaar provinsiale kleure verwerf in hokkie en die Laeveldspanne in tennis, aksie-netbal en ringbal gehaal. Sy verkies boonop ‘n spanopset want die druk is minder. “Ek hou meer van spansport want as jy ‘n fout maak is alle oë nie op jou nie. Wat sleg is daarvan is as die ander spelers kwaad raak as jy ‘n doel skiet eerder as om die bal aan te gee. Maar gewoonlik is daar niemand om die bal voor te gee nie.”
Selfs in tennis verkies sy om in ‘n span te speel. En hoe sleg verloor ook al is, hou sy haar in. “Dis die ergste om goed te speel en steeds te verloor,” sê sy.
Amberley sê sy hou meer van dans en is glad nie kompeterend soos haar jonger sus nie. Sy meen egter dat sy dit baie geniet om saam met haar pa te speel. “Dis die lekkerste om saam met hom rakette te swaai, veral as ons dubbels speel.”
