Local sportSport

Jong ster van die setperke sien uit na blink toekoms

Ek sal ook graag op Augusta National wil speel, waar hulle die gesogte Meesterstoernooi speel.

Hy is een van Mpumalanga se blinkste gholfsterre en op 24-jarige ouderdom het hy reeds ‘n paar rekords met sy entoesiasme en geesdrif vir die spel verbeter.

Lourens Volschenk het vanjaar die Nelspruit Ope by Nelspruit Gholfklub in Mbombela vir die tweede keer gewen, nadat hy dit in 2012 vir die eerste keer reggekry het.

Volschenk het ook onlangs vir die Sonskyntoer se kwalifiserende skool ingeskryf wat van 20 tot 24 Januarie in Bloemfontein plaasvind, waar hy graag die beroepsgholfwêreld sal wil betree.

“Ek het saam met my pa en sy vriende begin speel omdat hulle gereeld op die gholfbaan was. Alles het in Welkom gebeur, waar ek gebore is,” vertel hy.

Die groen setperke het Volschenk sederdtien betower en hy kan nie genoeg van die sport kry nie.

“Ek het al ‘n paar toernooie gewen, waaroor ek baie trots is. Die Lydenburg- en Mpumalanga-ope staan uit vir my omdat ek die laaste paar jaar goed vaar.” Volschenk het hierdie maand ook die provinsie by die International Teams-toernooi in Vereeniging verteenwoordig.

Volgens hom is dit ‘n baie lekker toernooi om in te speel, juis omdat jy jou provinsie verteenwoordig. In die afgelope vier jaar kon hulle weens onweer nog net een keer klaarmaak.

Volschenk reken dat sy lang spel sy sterkpunt is en dat sy dryfwerk die soliede platform vir hom op die gholfbaan lê.

“Ek speel met ‘n TaylorMade R11-drywer en ‘n Cleveland Hybrid-18 grade. My ysters en wigstokke is Cleveland cg 16 en putter Ping Karsten II,” vertel hy.

Sy gholfheld is Tiger Woods omdat hy ondanks al die skandale, steeds sy reputasie as een van die wêreld se beste spelers behou het. Highland Gate Gholfbaan in Dullstroom is vir Volschenk die mooiste en het die pragtigste uitsig in Suid-Afrika.

“Ek sal ook graag op Augusta National wil speel, waar hulle die gesogte Meesterstoernooi speel.”

Hy meen dat gholfspelers hope selfvertroue moet hê om houe te slaan wat op die ou einde lonend is.

“‘n Gholfspeler is ‘n man met selfvertroue. Goeie dissipline is uiters belangrik en ‘n mens moet nie slegte gewoontes aanleer nie. Wanneer jou pelle nog slaap moet jy al douvoordag op die baan wees en sien hoe die bal suiwer deur die lug trek.”

Voorbereiding skei ook die manne van die seuns en hierdie speler maak seker dat hy al sy energie gebruik om slaggereed vir die setperk te wees.

“Ek gaan slaap gewoonlik vroeg, want die volgende dag is lank. Ek sal gewoonlik ‘n paar balle slaan om los te maak en ‘n paar stelle slaan om die setperk se spoed te leer. Dit is ook baie belangrik om rustig te raak en net op jou spel te fokus,” noem hy.

Volschenk het ‘n laaste paar wyse woorde vir jong belowende spelers gegee: “Speel jou eie spel en werk hard. Moet dit nie te ernstig opneem nie, anders gaan jy dit nie geniet nie.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button