Plaaslike held draf uit vir SA
n Plaaslike rugbyspeler van Barberton, Jaice Terblanche, gaan binnekort sy land verteenwoordig wanneer hy vir die eerste keer vir die South African Rugby League Rhinos op die veld uitdraf.
‘n Plaaslike rugbyspeler van Barberton, Jaice Terblanche, gaan binnekort sy land verteenwoordig wanneer hy vir die eerste keer vir die South African Rugby League Rhinos op die veld uitdraf.
Hy maak Woensdag sy debuut teen die British Comm Lions op Groenkloof Kampus in Pretoria, waar hy as stut sal begin.
Die sogenaamde ligarugby verskil ietwat van dié wat ons ken. In plaas van 15 spelers, is daar slegs 13 op die veld (geen flanke).
Elke span behou die bal vir vyf duikslae, en wanneer jy geduik word, moet jy opstaan en die bal weer speel deur middel van ‘n tikskop, tussendeur jou bene na jou spanmaats agter jou. Sodra jy op jou vyfde duikslag is, het jy drie opsies:
• om ‘n drie te druk,
• om ‘n beter veldposisie te kry en die opposisie in hul eie helfte te hou, of
• om te skop en jou opposisie te dwing om die bal te speel, en sodoende foute af te dwing waarna die bal weer herwin kan word.
Geringe oortredings word met die gebruik van lynstane eerder as skrums opgelos. Die puntestelsel verskil ook van gewone rugby: ‘n drie sal jou span vier punte in die sak bring en ‘n doelskop tel twee.
Terblanche speel van sewejarige ouderdom af rugby, en het in 2005 ligarugby begin speel. Die Rhino-span word uit Noordwes, Mpumalanga, Limpopo, Vrystaat, Gauteng en die Westelike Provinsie gekies.
“Dit is ‘n ongelooflike gevoel om my land en provinsie te verteenwoordig,” sê Terblanche. “Ek het in ‘n sportiewe huis grootgeword. My pa het Curriebeker-rugby gespeel en ek wil graag sy skoene probeer volstaan.”
Hy hoop dat sy span volgende jaar tot die kwalifiserende ronde sal deurdring waarna hulle dan vir die wêreldbeker sal kwalifiseer. Sy droom is om in 2017 sy land by die wêreldbeker in ligarugby te verteenwoordig.
“Ek glo en vertrou dat ek eendag hierdie doelwitte sal bereik. Ek lewe volgens ‘n gesegde wat my pa altyd gehad het wat lui: ‘Never let a setback be a setback, let it be a comeback’.”
