Local sportSport

Veelsydigheid is in sy gene

Nie net is Pietie Oosthuizen 'n ridder op sy bruin hings nie, maar hy het ook tydens die afgelope wêreldkampioenskappe 'n silwermedalje in twee- en driekamp verower.

Hy is onlangs na die Olimpiese oefenfasiliteit in Colorado Springs, Amerika uitgenooi, waar hy saam met verskeie nasionale, wêreld- en Olimpiese atlete gaan oefen. “Natuurlik is dit my droom om aan die Olimpiese Spele te kan deelneem en om ‘n reusesukses van my lewe te maak,” vertel die 20-jarige.

Die voor-malige Hoërskool Nelspruit-leerling het eers vanjaar met toomspring begin, wat deel van die vyf dissiplines, wat ook swem, skermkuns, hardloop en skiet insluit. Hy woon tans in Paarl in die Wes-Kaap waar hy ‘n voltydse atleet is. “Ek het ‘n afrigter vir elke dissipline. Ek studeer nie op die oomblik nie, omdat my oefenprogram dit nie toelaat nie,” vertel Oosthuizen. Hy sê dat skermkuns en perdspring die mees uitdagende items is. “Jy mag nie jou eie perd gebruik nie. Lootjies word getrek wat bepaal watter een jy gaan ry en in watter volgorde. Elke kryger het ‘n ander tegniek en dis baie moeilik om by jou opponent aan te pas.”

Sy pa het vir drie jaar Cravenweek-rugby gespeel en hy was ook in 1980 NHS se rugby- en atletiekkaptein.

Hy self was ‘n goeie kortafstandatleet. “My ma was ‘n middelafstander en buiten my ouers se agtergrond, weet ek nie waar ek my langasem vandaan kry nie. Swem en hardloop is beslis my gunsteling-items en dit is waarop ek fokus.”

Oosthuizen se held is die voormalige Formule 1-kampioen, Michael Schumacher. “Hy het baie hard gewerk om dit reg te kry om sewe keer die wêreld se beste te wees.”

Hy het in die junior kategorie by die Biathle/Triathle-wêreldkampioenskappe die tweede plek op die podium ingeneem. Die kampioenskappe het by die Naval Akademie van Puerto San Jose in Sentraal-Amerika plaasgevind. Pietie wil graag sy voormalige afrigter, Charl Naudé en Hoërskool Nelspruit vir die kompeterende omgewing wat hulle vir hom geskep het, bedank.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button