Local sportSport

Na agt jaar maak stoeier wéér sy merk

Die kranige stoeier, Justin Meyer (17) lê nie snags wakker om die span vir die 2016 Olimpiese Spele te haal nie.

Vir nou wil hy Suid-Afrika se volgende stoeikampioen word.

Alhoewel hy die sport vir agt jaar gelos het, het hy nie sy liefde daarvoor verloor nie. “Ek het net eendag die Laevelder opgetel en gelees dat daar ‘n stoeiklub in die dorp begin. Sedert ek weer die eerste tree op die mat gegee het, het ek besluit om weer voltyds te begin stoei.”

Die Nelspruit Stoeiklub het aan die begin van 2013 sy deure oopgemaak waar die bekende en gerekende afrigter, Hansie Kruger aan die stuur van sake is. “Ons klomp manne het baie lief vir oom Hansie geword. Hy is ‘n wonderlike afrigter en ek het reeds baie by hom geleer.”

As agtjarige het Justin vir die eerste keer aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe wat in Kaapstad plaasgevind het, deelgeneem.

Die Meyers het in 2006 na die Laeveld verhuis en daardie jare was dié sport nog nie so aktief in die dorp beoefen soos vandag nie.

“Ek het gedurende die vakansies terug gegaan Vereniging toe waar ek by die Douw Steyl Soeiklub geoefen het. Ek wou daardie selfde jaar die Suid-Afrikaanse kampioenskappe gewen het, maar ek moes met ‘n bronsmedalje tevrede wees. ‘n Stoeiklub het in Barberton oopgemaak, maar meeste van die outjies het nie die sport geken nie, en ek het besluit om eerder op te hou met stoei. Daar was nie kompetisie vir my nie.”

Justin het na net ‘n paar maande sy provinsiale kleure verwerf en het dit vanjaar wéér reggekry.

“Ek het vir die ruk wat ek nie gestoei het nie, net rugby gespeel, maar as ek moet kies tussen die twee sportsoorte sal dit beslis stoei wees. As gevolg van stoei, is ek nie bang vir kontaksport nie.”

Vanjaar het hy ‘n rits prestasies verower: hy het die Noordvaal-span gehaal en het ook Mpumalanga in die SA’s wat vroeër vanjaar in Pretoria plaasgevind het, verteenwoordig. By die klub se onlangse jaareindfunksie, het hy die trofeë vir die junior stoeier wat die meeste vordering gemaak het asook die mees wetenskaplike stoeier gekry.

Sy grootste teestander, is Michael Gates van Oos-Gauteng. “As ek teen hom stoei, verloor ek die geveg nog voordat ek op die mat stap, maar my hand sal nog eendag omhoog gehou word.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button