LVCC is die Potts-kampioene
Dit was die krieketspan van LVCC wat die afgelope naweek tydens die jaarlikse Potts-toernooi die septer geswaai het.

Die plaaslike span was met ‘n kolfbeurt baas. Dit was vier maer jare vir die manne van LVCC sedert hulle laas in 2009 die trofee omhoog gehou het.
Dit was vanjaar die 104de keer wat die tradisionele wedstryd tussen LVCC en Johannesburg se Potts plaasgevind het. Dit is nie net ‘n naweek waar die manne ernstig krieket speel nie, maar Saterdagaand bestaan uit groot sosiale pret.
LVCC se Dwayne Obermeyer, wat vanjaar se 10de Potts-wedstryd gespeel het, was as man van die wedstryd aangewys nadat hy 134 lopies in 131 balle aangeteken het.
Warren Day, ook van die tuisspan, was op die dag vuurwarm met die bal in die hand en het vyf paaltjies laat kantel.
Die besoekers het op die eerste dag die loot gewen en besluit om eerste te boul. Alhoewel die Johannesburgers se Tiaan Slabbert LVCC se laaste drie paaltjies gevat het, was dit nie genoeg om die tuisspan te stuit nie. LVCC het 248 lopies aangeteken teenoor die powerige 60 van Potts. Net Kevin Johnstone van die besoekers kon meer as 30 lopies vir sy span maak.
Obermeyer het 17 viere en drie sesse in die 126 minute wat hy op die veld was geslaan.
Met die tweede kolfbeurt, het Potts ‘n skamele 58 lopies aangeteken en daarom was dit nie nodig vir die tuisspan om vir hul tweede kolfbeurt in te gaan nie. Dié einste span het ‘n jaar gelede 190 lopies aangeteken. LVCC se Roelof Jansen het vier paaltjies plat getrek.
