Local sportSport

Slot terug in oefenspan na ernstige siekte

Die Steval Pumas het skaars behoorlik feesgevier nadat hulle as die Curriebeker eersteliga-kampioene gekroon is, toe een van hul hemelbesems met die lewensbedreigende siekte, Guillain-Barré-sindroom (GB) gediagnoseer is.

Die slot, Eduan van der Walt, is na 351 dae terug op die oefenveld waar hy deel van die 2015-oefengroep is. “Dit was ‘n moeilike jaar. Ek het nie gedink of geweet of ek ooit weer sal kan speel nie.”

‘n Groep van die spelers was vir ‘n kort ruskans vanaf 28 tot 31 Oktober 2013 in Mosambiek en daarna het alles skeef geloop. Soos enige ander dag het hy gaan oefen waar sy bolyfspiere na dié sessie begin spring het. ‘n Dag later het hy na Pretoria vertrek waar sy familie woon. “Aan die begin het ek gedink dis tog normaal.” Die spandokter van die Pumas, Kobus Hugo het die 27-jarige na Unitas Hospitaal vir bloedtoetse gestuur. “Ek het elektroliete gekry en die Maandag is ek en my jonger broer na Port Shepstone in KwaZulu-Natal.”

Die volgende oggend kon hy nie sy koppie koffie vashou nie. “Dit was asof ek al my krag in my hande verloor het. Die dokter by Netcare Umhlanga het toe al vir my gesê ek het GB. Na vier dae het my voete ook begin sleep.”

Van der Walt is direk terug na Unitas in Pretoria oorgeplaas. Met sy besoek aan die buurstaat het hy malaria opgedoen en só het sy gestel dag na dag verswak. “My koors was een aand bo 40°C – ek kon breinskade opgedoen het. Ek het seker twee uur lank gebid met soveel vrae waarvoor ek nie antwoorde gehad het nie. Toe ek weer my oë oopmaak het dok Hugo voor my gestaan en al my vrae vir my beantwoord.”

‘n Fisioterapiesessie van net 30 minute het bestaan uit Van der Walt wat net op sy eie moet kan regop sit. “Ek het teruggekom Laeveld toe en as dit nie vir Elzette Kruger en Harry Wiltshire was nie, sou dit tien teen een nie so goed met my gegaan het nie.”

Die dag toe die Puma op 17 Desember 2013 ontslaan is, het hy 92kg geweeg. Vandag weeg hy ‘n stewige 113kg. “Elke dag is beter. Ek oefen nog nie so hard soos die ander manne nie, maar ek sal daar kom. Ek wil nie iets anders doen nie. Ek wil rugby speel. Ek het nie ‘n passie vir iets anders nie.”

Hy het sy laaste wedstryd op 26 Oktober 2013 teen die GWK Griekwas in die tweede promosie relegasiewedstryd gespeel. Volgende jaar sal hy weer die nommer 5-trui oor sy kop trek.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button