Local sportSport

Die oorwinning is soet

Na twee jaar van min vreugde, het die gholfspeler van Buffelsbaai, Branden Grace uiteindelik 2014 met 'n trofee bokant sy kop afgesluit nadat hy Sondag die Alfred Dunhill-toernooi op die prentjiemooi Leopard Creek met sewe houe gewen het.

Die nuutgekroonde wenner kon op die laaste gat nie meer grasie gewys het nie. Die paar sjampanje-druppels wat ter vieringe op hom geval het, het Grace nie in die minste gepla nie en die oorwinning net nog soeter gemaak. Sy vuurwarm-setyster en sy naastbestaandes was volgens hom sy wenresep.

“Dit was ‘n moeilike jaar en dit kon nie op ‘n beter manier afgesluit word nie,” het Grace na afloop van die toernooi gesê. “Ek was effens teleurgesteld met ‘n paar van die gate gister (Saterdag), maar ek het vandag goed teruggekom,” het hy gesê.

Hy het ook groot respek en dank teenoor sy joggie, Zach Rasego gehad. “Ons was spot on. Dit is seker een van dié toernooie wat elke Suid-Afrikaner graag op sy lysie wil aftik. Ek het baie gemaklik met my bofhoue gevoel en alles het net op die dag vir my uitgewerk.”

Rasego het in 2012 tydens al vier Grace se Europese oorwinnings sy sak gedra. Hy het in al ses sy laaste toernooie in die top-25 geëindig.

Dié 26-jarige het Sondag sy vyfde Europese titel verower en met ‘n foutlose ronde van 68 die spog- en bitterswaar Luiperd-trofee verower. Nie net sal hy die eerste gholfspeler wees wie se naam hiér en in Skotland op die Alfred Dunhill-trofee gegraveer word nie, maar sy naam het na vier rondes bo aan die punteleer gebly.

Vir die res van die jaar beplan Grace om sy gholfsak een kant toe te skuif voor hy begin om vroeg in die nuwe jaar vir die Suid-Afrikaanse Opekampioenskappe voor te berei.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button