Blink toekoms wink vir jong stoeier
Faantjie is tans die nommer-eenstoeier in Mpumalanga in sy gewigskategorie (58-63kg) in beide vrye styl en Grieks-Romeins
“Ek wil die beste wees en die nommer-eenstoeier in Suid-Afrika word.”
Dit is met hierdie vasberadenheid en deursettingsvermoë dat Faantjie Steyn een van die Laeveld se beste stoeiers in minder as twee jaar geword het.
Faantjie is tans die nommer-eenstoeier in Mpumalanga in sy gewigskategorie (58-63kg) in beide vrye styl en Grieks-Romeins.
“Toe my ma my na die klub geneem het, het sy gesê dat ek eendag ‘n Springbokstoeier gaan word. Nou is ek al nader aan een van my groot drome,”
vertel hy.
Nog een van Faantjie se groot drome is om by die 2020 Olimpiese Spele in Tokio Suid-Afrika te verteenwoordig.
Faantjie en sy pa en broer het deur die jare altyd teen mekaar gestoei en van die fisiese aspekte van hierdie kontaksport gehou.
“Ek het toe gedink dit sal ‘n goeie idee wees om by ‘n klub aan te sluit. My ma het toe op die Internet vir stoeiklubs in Nelspruit gesoek en toe op Nelspruit Stoeiklub afgekom. My ma het vir my afrigter ge-epos dat sy nog ‘n SA-kampioen na die klub toe gaan stuur,” vertel Faantjie.
Dié 16-jarige van Hoërskool Bergvlam vertel ook dat stoei se oefensessies verskriklik uitdagend is en dat niks ooit verniet kom nie.
“Die eerste oefenkamp was ek absoluut pootuit. Dit toets elke deel van jou liggaam, beide fisies en emosioneel, maar as jy daar uitkom is jy sterker en ‘n beter stoeier. Om aan die groot kompetisies deel te neem moet ‘n mens superfiks wees,” verduidelik hy.
Faantjie gim gereeld smiddae ná skool en hardloop ook so nou en dan ‘n paar pretwedlope om fiks te bly.
“In Desember gaan ek baie hard moet werk aan my fiksheid sodat ek reg is om in Februarie nasionale kwalifisering te kry om internasionaal te toer. Net die topstoeiers in Suid-Afrika kry hierdie geleentheid.”
Hierdie Vlammie beklee tans die algeheel derde plek in Suid-Afrika en beskou sy kragmeting teen die tweede gekeurde Nathan Webb as van sy bestes. Faantjie was een van die enigstes van die Nelspruitse stoeiers wat ‘n suplay-beweging kon uitvoer om Webb te klop.
“Dit is wanneer jy ‘n opponent gooi dat al sy ledemate van die grond af is. Dit lyk soos ‘n sierlike boog en ‘n mens kry die maksimum van vyf punte vir so ‘n gooi. Dit is regtig ‘n killer-gooi,” vertel hy.
Beserings het ook nog nooit vir Faantjie enige groot probleem veroorsaak nie en is iets wat aan sy goeie fiksheid en sterk spiere toegeskryf kan word.
“Ek het eenkeer my gewrig seergemaak, maar gelukkig het dit herstel net voor ek SA’s toe is,” vertel Faantjie.
Sy groot stoeiheld is die Rus, Aleksandr Karelin, wat as die beste stoeier in die geskiedenis van die sport beskou word.
“Ek het orals plakkate van hom in my kamer. Hy was net ongelooflik goed en ek wens ek kan eendag sy vlak bereik,” sê Faantjie.
Teenstanders sal moet wakker wees wanneer Faantjie sy gunsteling quarter Nelson-greep en ambulanc-gooi uitvoer want dan is dit neusie verby.
Die nuwe jaar behoort ‘n blink een vir Faantjie te wees wat na mening sy stoeitalent na nog hoër vlakke gaan neem.
