Rugbyklub pak nuwe jaar met ywer aan
Volgens Gunther Swart, afrigter van die eerste span, verwag hulle om 'n goeie jaar te beleef en puik rugby te speel waar nuwe en ervare spelers die kern van die span sal vorm.
Nelspruit Rugbyklub gaan die nuwe jaar met mening begin en beoog om groot hoogtes in hul 90ste bestaansjaar te bereik. Dié klub het ‘n ryk rugbygeskiedenis en sal op die tradisies en wenkultuur wil voortbou.
Dit is tyd vir die manne om weer die stewels af te stof en bloed, sweet en trane op die rugbyveld tydens die opkomende seisoen te los.
Voordat daar wedstryde gespeel kan word, moet daar eers hard geoefen word tydens die eerste paar weke van die nuwe jaar.
Nelspruit Rugbyklub bied vandag hul eerste oefensessie aan waar spelers om 18:00 by die klub moet wees. Oefeninge sal elke Dinsdag en Donderdag by die klub plaasvind.
Volgens Gunther Swart, afrigter van die eerste span, verwag hulle om ‘n goeie jaar te beleef en puik rugby te speel waar nuwe en ervare spelers die kern van die span sal vorm.
“Ons nooi alle nuwelinge na die oefeninge uit, veral dié wat skool verlaat het en hul rugbydrome wil voortsit.
“Verder verwelkom ons ook oudspelers wat by afrigting of op ‘n spanbestuurdersvlak wil betrokke raak,” het Swart genoem.
Die presiese bepalings en strukture vir 2015 sal by die algemene jaarvergadering vasgestel word.
Navrae: Herklaas du Preez by
083-228-9314 of Gunther Swart by
083-626-6166.
