Junior skaakspelers verwerf silwer by nasionale kampioenskappe
Ehlanzeni se skaakspan wat uit 71 spelers bestaan, het uitstekend in die toernooi gevaar met die o/12A-span wat die silwermedalje verower het.
Die Suid-Afrikaanse Junior Skaak-kampioenskappe het in die bloedige hitte van Kimberley in die Noord-Kaap vanaf 3 tot 7 Januarie plaasgevind waar die land se topspelers letterlik en figuurlik gesweet het om hul teenstanders te oorwin.
Ehlanzeni se skaakspan wat uit 71 spelers bestaan, het uitstekend in die toernooi gevaar met die o/12A-span wat die silwermedalje verower het.
“Dit was ‘n uitstekende spanpoging en dit is ‘n fenominale prestasie as ‘n mens in ag neem dat ons nog ‘n baie klein unie is wat teen groter en meer bekende unies soos die Westelike Provinsie en KwaZulu-Natal moes meeding,” het Karen Taljaard, skakelbeampte van Ehlanzeni Skaak, gesê.
“Daar is 10 persone in ‘n span. Die bestes speel by bord een en so werk dit ondertoe tot by bord 10. Die kinders wat bordpryse ontvang het, is die deelnemers in ‘n spesifieke ouderdomsgroep wat die beste in hul bordnommer gevaar het.”
Volgens Taljaard was die kinders vreeslik uitgeput en moes hulle gereeld water en ander vloeistowwe inneem om dehidrasie te voorkom.
“Ons spelers het buiten die hitte die toernooi werklik geniet en dit was ‘n uitstekende ervaring vir die groep. Ons kan baie trots wees.”
Die O/18 het ook in die uitdagende kampioenskapsliga deelgeneem en hul puik van hul taak gekwyt.
“Die span het verlede jaar die algemene liga gewen en moes hierdie jaar in die hoogste liga deelneem,” het Taljaard gesê.
Finale uitslae van Mpumalanga se spanne.
O/12A: 2/28 (silwermedalje-wenners)
O/12B: 8/28
O/14A: 7/24
O/14B: 19/24
O/16A: 5/14
O/18A: 8/8 (kampioenskapsliga).
Individuele hoogtepunte
• Bord een is die beste met die topgekeurde spelers. Die bordprys word aan die speler wat die beste gevaar het op ‘n spesifieke bord, oorhandig.
O/10
• Liam Pringle – 6 punte uit 7
(wen bordprys by bord 6)
• Dicken Nkosi – 5,5/7 bord 3
• Nathan Douglass – 5/7 bord 8.
O/12A
• Banele Nkosi – 5,5/7 bord 1
• Zuan Taljaard – 6/7 bord 8
• Lindokuhle Bhila – 6/7 bord 9
• Pierre Janse van Rensburg – 6/7 bord 10.
O/14A
• André de Kock – 5,5/7 (bordprys bord 3)
• Marcel Barnard – 5/7 bord 7
• Braham van der Walt – 7/7
(bordprys bord 9).
O/14B
• Simphiwe Mbuyane – 5/7 bord 2.
O/16
• Alexander Maartens – 7/7 bord 1
(wen bordprys)
• Daniël Upke – 5/7 bord 4.
