Local sportSport

Vyfkampatleet mik na groot Olimpiese hoogtes

Met die leuse "Oefen soos 'n atleet en jy sal lyk soos 'n atleet" as motivering, kan daar net nog groot prestasies van hierdie doelgerigte sport-ster verwag word.

Die Laeveldse vyfkampatleet, Pietie Oosthuizen, het onlangs die geleentheid gehad om sy staal te toets teen 50 van die wêreld se beste Olimpiese atlete by die Olimpiese Oefensentrum in Colorado Springs in die VSA.

Oosthuizen kon sodoende ‘n voorsmakie van sy droom kry om Suid-Afrika by die Olimpiese Spele te verteenwoordig toe hy aan hierdie merkwaardige fasiliteite by die sentrum blootgestel is.

“Dit was ongelooflik om te sien hoe ernstig en professioneel al die atlete en personeel is.

“Die fasilitite is omtrent tien keer beter as waaraan ek in Suid-Afrika gewoond is,” het hy uitgebrei.

Volgens Oosthuizen was daar ook ‘n volle toegeruste gimnasium waar atlete elke dag ‘n klipharde oefenskedule na gelang van hulle items en dissiplines moes voltooi.

“Ek moes elke dag ses uur oefen. Op ‘n normale dag sou ek van 08:00 tot 10:00 fietsry oefen en dan van 11:00 tot 12:30 aan my swem werk, 15:00 tot 16:00 hardloop en dan van 17:00 tot 18:00 op my skiet konsentreer. Ek het baie op die tartanbaan op die tweede verdieping geoefen.”

Vyftig atlete het aan die oefenkamp deelgeneem met net Oosthuizen wat Suid-Afrika verteenwoordig het. Ander verteenwoordige lande, was Amerika, Nieu-Seeland, Guatemala, Meksiko, Kanada, Oostenryk, Egipte, Poland en Panama.

“Ek en my kamermaat, Thomas Daniel van Oostenryk, het goed oor die weg gekom.

“Hy het my regtig baie geleer oor hoe belangrik dit is om gefokus te bly. Daniel het in die 2012 Olimpiese Spele ‘n sesde plek in die vyfkamp behaal.”

Oosthuizen het die ervaring en raad wat hy van sy mede-atlete en afrigters gekry het ter harte geneem en sy vaardighede opgeskerp om nuwe persoonlike mylpale te bereik. “Ek het my normale swemtyd met 16 sekondes verbeter, waaroor ek baie bly was,” het hy gesê.

Dié voormalige leerling van Hoërskool Nelspruit is tans besig om seker te maak dat hy goed voorbereid is vir die eerste ronde van die vyfkamp-wêreld-kampioenskappe wat vanaf 16 tot

22 Februarie in Sarasota in die VSA plaasvind.

“Daar is 80 atlete en net 36 dring na die finale ronde deur. Wat ook moeilik is, is dat net een vyfkampatleet van Afrika vir die Olimpiese Spele kan kwalifiseer.

“Die Egiptenare is my sterkste opposisie op die oomblik,” het hy verduidelik.

Volgens hom is dit uiters belangrik om ‘n gesonde en gebalanseerde dieet asook noukeurige en strawwe oefenskedule te volg om ‘n top-professionele atleet te kan wees.

“Ek eet baie rou groente en pasta vir energie, maar neem ook vitamienaanvullings om seker te maak dat ek al my voedingstowwe inkry,” noem hy. Een van die uitdagendste elemente van vyfkamp is die spoed waarteen alles moet plaasvind.

“Daar is glad nie ruskans nie. Net na ek

3 200m gehardloop het, moet ek vier teikens skiet. Korrekte asemhaling is baie belangrik, veral wanneer die lug dun is bo seespieël soos in Colorado Springs,” sê Oosthuizen.

Vyfkamp bestaan uit 200m-vryslagswem, perdry, 3 200m-hardloop, skiet, asook skermkuns.

“My beste dissipline is ongetwyfeld hardloop, terwyl ek nog aan my swaardkuns moet werk, maar dit sal ook verbeter,” sê hy met oortuiging. Met die leuse “Oefen soos ‘n atleet en jy sal lyk soos ‘n atleet” as motivering, kan daar net nog groot prestasies van hierdie doelgerigte sport-ster verwag word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button