Top twee krieketspanne slaags
Nelspruit krieketklub se eerstespan het lag-lag met Impala 1 afgereken.

Die twee top-krieketspanne in die Ehlanzeni-eersteliga het hierdie naweek swaarde gekruis en Nelspruit 1 het Impala 1 behoorlik die loef afgesteek. Dié twee moes verlede jaar al mekaar die stryd aansê, maar die wedstryd is uitgestel weens die merk van matriekvraestelle by Lowveld High School.
Die tuisspan, Impala het Saterdag eerste gekolf op Lowveld High se A-veld. Hulle kon slegs 87 lopies aanteken voor die span uitgeboul is.
Dane Heyneke se 20 was die grootste poging met die kolf, terwyl Nelspruit se Arno Gie en Ampie Korf elk drie paaltjies kon plattrek. Korf het in sys ses beurte net 18 lopies afgestaan, terwyl Impala net 16 lopies van Gie se boulwerk in vier beurte kon slaan.
Nelspruit het die teiken gou behaal en kon 88 aanteken met slegs sewe paaltjies plat om die wedstryd te wen. Hulle moes nogal vasbyt aangesien hulle al vroeg-vroeg 40/7 was.
Peter Shephard se 31 en Jacques Hopkins se 18 lopies het die wa deur die drif getrek. Morné Swart vir Impala kon wel vyf paaltjies neem en het in sy agt beurte slegs 19 lopies afgestaan.
Die liga wat deur die feestyd in Desember onderbreek is, skop eerskomende naweek weer in volle gang af.
