Local sportSport

Slimkop maak al die regte skuiwe

Skaak is so deel van hom soos asemhaal. Marcques Hansen (14) is gaande oor dié sport en het onlangs aan die SA Skoleskaaktoernooi en die Suid-Afrikaanse Junior Skaakkampioenskappe (SAJSKK) in Kimberley deelgeneem.

“Ek het op vierjarige ouderdom begin speel. Ek het aanhoudend by my ma gekla om my te leer.

Toe ek eers al die skuiwe onder die knie gehad het, het ek teen haar begin speel en gewen. Ek het ook teen my oupa gespeel en hom begin wen. Teen my pa het dit my egter nege maande gevat!”

Sy ma, Marnel, vertel dat Marcques baie by oom Bill Riesner gaan oefen het. Hy was sy hele laerskoolloopbaan in Laerskool Lydenburg, en sy hoërskoolloopbaan voltooi hy nou by Hoërskool Waterkloof.

“Ek het daarheen gegaan vir die skaak. Dit is die topskool in die land wanneer dit by dié sport kom.”

Drie spanne van Waterkloof het vir die SA Skoleskaaktoernooi ingeskryf en al drie het met die louere weggestap. “Ek speel nou reeds 10 jaar. Toe ek 12 was, het ek sesde in die land tydens die SA geslote kampioenskap geëindig.”

By die SA Skolekampioenskappe vanjaar het Marcques gekwalifiseer om aan die geslote kampioenskap deel te neem. Daar gaan hy teen die top-30 beste spelers in die land vir SA kleure kompeteer.

“Tans is ek die 25ste beste speler in die land. Ek het ‘n passie vir skaak en kan glad nie genoeg daarvan kry nie. Daar is duisende skuiwe, dalk selfs miljoene.”

Na enige wedstryd kan hy al die skuiwe van hom en sy teenstanders onthou. Daar is maklik 140 wat Marcques weer na ‘n spel kan herroep.

“Skaak is baie goed vir jou geheue en kinders wat aan aandagafleibare sindroom (ADHD) ly, vind baie baat daarby.”

Hy het in gr. 1 al kompeterend begin speel en neem skaak as vak. “By Waterkloof het jy selfs die opsie om netbal, tennis of rugby as vak te neem. In skaak doen ons verskeie legkaartoefeninge en ons kan ook die eksamen aflê sodat jy as ‘n skeidsregter kan kwalifiseer. Ek wil graag eendag hê die Grand Master-titel moet aan my toegeken word.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button