Stoeiers begin voorbereiding vir nasionale proewe
Enigiemand wat belangstel om vanjaar te begin stoei kan die klub nader.
Die nasionale stoeiproewe is om die draai en Nelspruit Stoeiklub se lede maak hulle al gereed. Die klub het Woensdag na ‘n onderbreking weens die skoolvakansie weer heropen en groot dinge wag in 2015.
Stoeiers van o/13 en ouer kan aan die gradering vir internasionale mededinging deelneem wat op 28 Februarie in Pretoria plaasvind. Hoofafrigter, Hansie Kruger het egter verduidelik dat nuwe stoeiers nie aan die diepkant ingegooi sal word nie. Vir hul eie beskerming verwag hy nie méér van hulle as waarvoor hulle al gereed is nie.
So is nuwe stoeiertjies en hul ouers ook verwelkom. Enige kind vanaf drie jaar oud kan te eniger tyd aansluit, en niemand is te oud om te begin nie, ook nie volwassenes nie.
Kruger het wel aanbeveel dat wanneer nuwe stoeiers besluit om aan te sluit, hulle vir ten minste ‘n jaar aanbly om dissipline te kweek. “Dis die beginsel dat wanneer dinge taai raak, jy nie tou opgooi en van voor af met iets anders begin nie,” maan hy.
Veral ontwikkelingstoeiers is welkom. Die klub oefen Maandae en Woensdae vanaf 17:30 vir twee uur. Navrae: Mediabeampte Anita by 076-302-2774.
Volg Nelspruit Stoeiklub op Facebook en Twitter vir die jongste nuus.
