Afrigters kom steek kers op by Pumas
Die Steval Pumas het groot sukses met die afgelope naweek se afrigtersindaba behaal wat Saterdag by Laerskool Nelspruit aangebied is.

Altesaam 158 breiers het dit bygewoon, 50 meer as verlede jaar.
“Ons was vanjaar daarop ingestel om die dag baie meer prakties aan te bied en om vir die afrigters die groter prentjie van ons oefeninge te gee,” het die breier van die Pumas, MJ Mentz gesê.
“Ons kry geweldig baie navrae van afrigters soos: ‘Hoe sit ons die oefeninge bymekaar?’ en ‘Hoe bring ons dit in ons wedstryde in?’. Dit was die hele doel met die kursus.”
Die bestuursspan en die spelers het vier aspekte van die spel gedemonstreer: verdediging, aanval, losskrumspel en spelstrategie. “Dit is vir ons belangrik om die spelers so te stimuleer dat as sekere goed in ‘n wedstryd gebeur, hulle presies weet wat om te doen.” Hy voel dat baie afrigters eerder op agterlynbewegings konsentreer as op die basiese vaardighede. Statistiek wys dat daar soms op die meeste net drie kanse op ‘n agterlynbeweging is vanaf vaste fasette in 80 minute. “n Speler moet die bal perfek in die speler links en regs van hom se hande kan áangee.”
Adé Adendorff van die Mpumalanga Afrigtingsvereniging wil graag die bestuurspan en die spelers vir hul harde werk gedurende die naweek bedank.
Die Pumas speel hul eerste van twee opwarmingswedstryde teen die Blou Bulle op Loftus Versfeld op Saterdag 14 Februarie. “Ons gaan reg wees. Ons het ‘n oefenkamp wat volgende week afskop waar ons baie op kondisionering gaan fokus,” sê Mentz.
‘n Paar spelers sukkel met geringe beserings, maar hy glo dat hulle spoedig sal herstel. “Jerome Pretorius en Justin van Staden herstel nog van die ongeluk waarin hulle betrokke was.
“Hennie Skorbinski het sy patella-tendon seergemaak en Marnus Schoeman het ‘n geskeurde kuitspier, maar hy begin stadig saam oefen. Simon Westraad sukkel met ‘n seer knie en het behandeling vir onsteekde bloedplaatjies ontvang.”
