Local sportSport

Ster-student mik vir swart

Sunet van Tonder mag dalk klein en fyn lyk, maar manne, pasop!

Hierdie 18-jarige is as Wolves Martial Arts se senior student van 2013 gekroon en gaan binnekort ‘n swart gordel om haar middel vasbind.

Sunet het vir haar internasionale deelname in Rotterdam, Holland in 2013 ‘n silwermedalje vir haar tradisionele vorm en ‘n derde plek in die kortstok verower. Met dié prestasie is sy as Hoërskool Bergvlam se sportdogter van 2014 aangewys. “Die aand voor die merietetoekennings in 2013 het ons van Holland teruggekeer en kon nie daardie jaar aansoek doen vir die prestasie nie. Ek moes ‘n jaar wag en ek het gehoop en gebid dat ek dit sal kry.”

Sy spog tans met ‘n rooi drie-gordel en sy wil hard genoeg werk om voor Junie vir haar cho dan bo (blou) te kwalifiseer. “Mits ek dit regkry kan ek aan die einde van die jaar my eerste dan (swart gordel) kry, maar ek gaan baie hard daarvoor moet werk op fisiese en psigiese vlak.”

Die donkerkop het aan die begin van 2013 eers by Wolves Martial Arts begin. Haar matriekjaar het haar nie toegelaat om so baie by die sport uit te kom soos wat sy graag sou wou nie, maar sy wil vanjaar daarvoor opmaak. “Ek gaan deur die pos argitektuur studeer en dit laat my toe om so hard as moontlik te oefen sodat ek deel van die nasionale span kan wees wat in 2017 aan die wêreldkampioenskappe deelneem.”

Sunet se twee meesters, Awie en Xander Davis, was van die begin af positief oor haar. “Sy is ‘n harde werker, positief en ‘n lojale student wat ‘n natuurlike aanleg vir krygkuns het. Wanneer daar ‘n geleentheid is om te oefen, sal sy dit gebruik.”

Ander sport wat sy beoefen het:
• Gimnastiek van 2001 tot 2008. Sy was vyf jaar in ‘n ry eerste in Mpumalanga
• Atletiek top-10 in 2010 en 2011 in hoog- en verspring, 100 meter, 90 meter-hekkies en aflos
• Dogters-eerstespankrieket van 2010 tot 2012 en 2014.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button