Blits verwerf sy eerste nasionale titel
Met 'n gemiddelde spoed van 41 kilometer per uur, is MTN Qhubeka se Jacques Janse van Renburg die Pennypinchers SA Nasionale Kampioenskap se blits.

Tydens die laaste ronde het Janse van Rensburg reeds met twee minute van die bondel weggebreek.
Met ‘n tyd van 04:26:36 het hy ook sy eerste nasionale titel verower. “Ek is baie bly dat ek die elite-afdeling gewen het veral met die oog op MTN Qhubeka se deelname aan die Tour de France later vanjaar. Tydens die laaste twee rondes het ek ‘n wegbreekkans gekry en tot die laaste net my kop afgehou en geweet ek kan dit doen.”
Die tydtoetswenner, Daryl Impey van Orica-GreenEDGE was twee minute en vier sekondes agter die wenner in die tweede plek. Hy het na afloop van die wedren gesê dat hy effens teleurgesteld is. “Ek is tevrede met die silwermedalje, maar ons het nie as ‘n groep vandag saamgewerk nie. Ek kon nie alleen van my kant af al die werk gedoen het nie.”
Die elitevroue het in die snikhete van die dag weggespring met Ashleigh Moolman Pasio wat nóg ‘n goue medalje ingepalm het. Dié Bigla-fietsryer het teen die sesde ronde van die groep weggebreek om sodoende haar teenstander met 58 sekondes te klop. Europe Car en plaaslike ryer, Demarco Pillay het ‘n brons in die seuns o/16-kategorie verower. Die Afrikaanse Kontinentale-kampioenskappe het gister in KwaZulu-Natal begin waar ‘n Laevelder, Mandie Swart in aksie is. Swart het Saterdag in die juniors in die vierde plek klaargemaak.
Uitslae
• Seuns o/16 – Devin Short
• Junior dogters – Frances du Toit
• Junior mans – Jarrod Hattingh
• Elitevroue – Ashleigh Moolman Pasio
• Elitemans – Jacques Janse van Rensburg.
