NHS vaar uitstekend teen die bestes in Pretoria
Na die puik vertoning wat NHS se gedugte span die vorige naweek tydens die tuisbyeenkoms gelewer het, is die lang pad Pretoria toe aangedurf, waar die atlete met die bekende krag van skole soos Waterkloof, Kemptonpark, Paarl Gimnasium en Potch Gimnasium, te make gehad het.

Die Nellies het gewys dat die grafiek se kurwe in die regte rigting wys, toe talle atlete op hul vorige beste vertonings verbeter het. Die puik sintetiese baan van Tukkies (L.C. de Villiers), het aan die plaaslike baanatlete die geleentheid gegee om hulle vir die groot Super Inter wat vroeg in Maart te Rustenburg aangebied word, te slyp. Hopelik sal die droom van ‘n eie tartanbaan hier in die Laeveld, nie net ‘n droom bly nie !
Werner Bouwer (s.17) het oudergewoonte vir een van die beste prestasies van die dag gesorg, toe hy die 700g-spies op ‘n allemintige 65,50m laat grondvat het. Jannie Small se 1996 Nellie-rekord van 67,36m, lyk nie meer so onbereikbaar nie, en Werner het met hierdie gooi, gekwalifiseer om vir vanjaar se IAAF internasionale jeugkampioenskappe in aanmerking te kom. Dan moet die naam van Deidre de Kock ook bo-aan die lys van top-presteerders gevoeg word. In ‘n skitterende wedloop, slaag sy daarin om ‘n paar groot name in die stof te laat byt. Haar wentyd van 66.35 sek. in die 400m hekkies (m.16) het Simone Smalberger se rekord van 66.66 sek. in die slag laat bly. Spanmaat Nerina Visser het die korter hekkies (100m) in ‘n baie goeie 15.65 sek. ingepalm. Mia Erasmus (m.16) het met ‘n volle 10 sek. op die vorige week se wentyd (5:13.34) verbeter, toe sy in die 1500m die hakskene vir al haar teenstanders gewys het. Haar 800m-tyd van 2:25.33 toon ook duidelik dat sy aan die opmars is.
Tertius Mentz (s.15) het die 800m in ‘n uiters belowende 2:05.80 gewen, met spanmaat Rainer Spruyt (2:09.78) wat ook sterk klaargemaak het. Die 14-jarige Stephan Smit het vir vuurwerke gesorg, toe hy in drie items (s.15) koning gekraai het. Hy wen die skyfwerp (49,96m), spiesgooi (59,60m) en gewigstoot (14,33m) – iets om baie trots op te wees, as die sterk kompetisie in gedagte gehou word. Leon Pienaar (seuns 17) was in beide die 400m (51.47 sek.) en 800m (2:02.67) te sterk vir sy teenstanders. Ook Wandla Nkosi het NHS se krag in die middelafstande onderstreep, toe hy in die afdeling vir seuns 16, eersteplekke in die 1500m (4:19.92) en 3000m (9:30.10) losgehardloop het. In Eduan Engelbrecht het NHS vanjaar sekerlik een van die beste naellopers in ‘n baie lang tyd ! Om in Pretoria die 100m (11.09 sek.) en 200m (22.07 sek.) voor die neuse van die stadsjapies weg te raap, wil gedoen wees ! Eduan se stryd teen die ander spoedvrate van die Laeveld, sal gewis van die hoogtepunte op vanjaar se interskole wees. Michael Soderlund (ook s.19) se tweekuns in die verspring (6,29m) en driesprong (12,68m) verdien ook vermelding. Dan het kragman Marnus vd Merwe weer nie op hom laat wag nie. Slegs 14,21m was genoeg om die gewigstoot (s.19) te wen, maar toe trek hy los met ‘n reuse gooi van 50,98m in die skyfwerp – sy beste nog met die 1,75kg-skyf.
Nog podium-plekke (eerste drie) is deur die volgende Nellies behaal:
Chante Nel: 300m hekkies m.15 – 53.56 sek.
Aniska Krause: verspring m.15 – 4,79m
Ilke Joubert: gewigstoot m.16 – 12,46m
Nerina Visser: 400m hekkies m.16 – 72.00 sek., ook 100m – 13.22 sek.
Carmen Cronje: 100m hekkies m.17 – 15.52 sek., ook 400m hekkies – 69.80 sek.
Rischa Blom: verspring m.19 – 4,65m, ook driesprong – 10,31m
Nicole Joubert: 1500m m.19 – 5:11.14
Alisia vd Merwe: hamergooi m.19 – 29,73m
Monique McDonnald: hamergooi m.19 – 28,28m
Cor-Mari Oliver: gewigstoot m.19 – 10,68m
Bianke Potgieter: 3000m m.19 – 11:49.20
Joshua Maass: verspring s.15 – 5,66m, ook spiesgooi – 53,05m
Tertius Mentz: 1500m s.15 – 4:27.55
Wian Otto: gewigstoot s.15 – 13,73m
De Villiers Basson: 800m s.16 – 2:03.17
Meli Mazibuko: verspring s.16 – 6,01m
Henco Pieters: skyfwerp s. 16 – 44,75m
JC Taljaardt: hoogspring s.16 – 1,75m
Stephan vd Bank: spiesgooi s.16 – 58,89m, ook gewigstoot – 14,99m
Arlo van Heerden: 3000m s.19 – 9:58.90
Gronighan Grobler: 800m s.19 – 1:57.43, ook 400m – 51.69 sek.
KP de Jager: gewigstoot s.17 – 14,50m
Emil Dorey: hoogspring s.17 – 1,80m
Francois Esselen: gewigstoot s.17 – 16,29m
Le Roux Groenewald: 1500m s.17 – 4:26.99
Marnus Kruger: 110m hekkies s.17 – 14.75 sek., ook 400m hekkies – 59.62 sek.
Bartlo Nel: verspring s.17 – 6,02m
Wandla Nkosi: 800m s.17 – 2:03.28
Leon Pienaar: 400m hekkies s.17 – 59.38 sek
Hannes Aucamp: 110m hekkies s.19 – 14.92 sek.
Ruan Nieuwoudt: 400m hekkies s.19 – 56.50 sek.
Justin Smit: 800m s.19 – 1:57.44
Nog enkele uithaler-vertonings, sluit in :
Linmari Potgieter; hoogspring m.15 – 1,45m
Ilke Joubert: spiesgooi m.16 – 33,70m
Dessire van Staden: 1500m m.16 – 5:19.32
Nerina Visser: 200m m.16 – 27.16 sek.
Tiaan Kotzee: 200m s.15 – 24.90 sek.
Stephan Smit: 100m hekkies s.15 – 14.85 sek.
Wium Barnard: gewigstoot s.16 – 13,06m
De Villiers Basson: 400m s.16 – 52.95 sek.
Ruan Groenwald: 110m hekkies s.16 – 15.70 sek.
Naas Marais: skyfwerp s.16 – 42,10m
Wian Otto: skyfwerp s.15 – 42,80m
Francois Esselen: skyfwerp s.17 – 44,12m


